Moord ruk Setaria

SETARIA – ‘n Klipgooi van Northam Platinum Ontspanningsklub (Setaria Rec klub), waar die HFM Matrieks vanjaar hul Matriekafskeid op Saterdagaand 1 Oktober gehou het, is die liggaam van ‘n eggenote en ma, gevind.

Annalize Herbst (39) is vermoedelik in die middernagtelike ure deur inbrekers in haar slaap oorrompel. Volgens Kolonel Ronel Otto, Limpopo Provinsiale woordvoerder, het Annelize se eggenoot, André, op Sondagoggend om 06:00 met sy tuiskoms na sy skof by Northam Platinum Myn, op haar liggaam afgekom. Otto sê hulle vermoed sy is verwurg na aanleiding van die merke aan haar nek.

Twee selfone, ‘n beursie wat bankkaarte bevat en ‘n CD-speler word vermis. Otto sê daar is geen teken van forseerde toegang nie en hulle vermoed dat Herbst dalk ‘n deur oopgelos het. ‘n Moorddossier is geopen en die saak word ondersoek. Niemand is nog in die verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Elke voertuig wat HFM Matriekafskeid-gangers na die klub vervoer het, moes ‘n spesiale ingangspermit by Setaria se hoofingang toon om toegang te kon verkry na dié myndorp. Dit bly ‘n ope vraag hoe die moordenaars toegang verkry het, en hoekom hulle spesifiek die Herbst-woning geteiken het.

Volgens familie was Annalize ‘n saggeaarde persoon wat nie eers ‘n vlieg met gif wou spuit nie. Bure beskou hulle as lieflike en aangename mense wat niemand enige kwaad sou aanddoen nie.

Annalize is in 1972 in Ermelo gebore. In 1990 is sy en André in die huwelik bevestig en is hulle met ‘n dogter, Angelique, geseën. In 2008 verhuis die gesin na Setaria. Haar eggenoot, familie en vriende betreur haar afsterwe.

Annalize se roudiens vind vandag, Vrydag 7 Oktober 2011 om 11:00 plaas vanuit die NG Kerk te Koedoeskop. Ds de la Guerre sal die diens lei.

André bedank almal vir hul hulp en ondersteuning in hierdie hartseer tyd.