Miljoene uit bank kluis gesteel

LEPHALALE – Meer as R4 miljoen is Maandag in die vroeë oggendure uit  Absa Lephalale se kluis gesteel. Daar word vermoed ‘n groep van vier verdagtes het deur die dak toegang tot die bank gekry en toe die geld uit die kluis verwyder.

Bankbestuurder, Karel de Vries, het Maandagnag ‘n oproep van die sekuriteitsgroep Fedility Sekuriteit in Johannesburg ontvang om navraag te doen omdat hulle geen sein van die bank se alarmstelsel kon kry nie. De Vries het na die bank gegaan waar hy en lede van Molalatau sekuriteit dadelik onraad vermoed het. Volgens sekuriteitspersoneel het voetspore gewys dat sowat vier mans aan die agterkant van die bank na die dak geklim het.

Die perseel is onmiddelik afgeskort en ‘n polisietaakspan van Polokwane is ontbied. Volgens provinsiale polisiewoordvoerder, Lt. Kol. Ronel Otto het die verdagtes die kluis met ‘n hoeksnyer oopgesny. Sy het bevestig dat verskeie voertuie op CCTV kameras geidentifiseer is, en tans ondersoek word.

Volgens Andries Bester van Molalatau Sekuriteit was die rooftog uiters goed beplan. “Telkomlyne is op twee plekke gesny, langs die bank self en ook by die Sasol Motorhawe kruising in Onverwacht waar die hooflyn kabels bymekaarkom vir die Onverwacht sentrale. Dit sou verseker dat die alarmsein nie per landlyn of digitale lyn die beheersentrum in Johannesburg bereik nie.”

‘n Ooggetuie het aan Noordelike Nuus gesê sy het ‘n Telkomvoertuig vroeër Sondagaand in die omgewing gesien. Kort nadat sy hulle opgemerk het is die telefoonlyne van ses blokke rondom Absabank afgesny.

Die saak word ondersoek en nog geen verdagtes is teen druktyd in hegtenis geneem nie. LiN-MEDIA/Bosveld Bulletin