Bobbejaan los kind, gryp hond

Me Natasha Streicher by Atashanie (4) en George (18 maande). Atashanie hou hul brawe Pikanees, Zorro, vas.

THABAZIMBI – ‘n Ouer het haar ergste nagmerrie naelskraap vrygespring toe ‘n bobbejaan op Vrydag 7 Oktober haar kind uitlos en met die gesin se Pikanees-hondjie in die bosse verdwyn het.

Me Natasha Streicher, ‘n inwoner van Vierdelaan, het aan Die Kwêvoël vertel dat hierdie bobbejaan-trop reeds vantevore in hul erf gekom het.

Die kinders het die oggend omstreeks 09:30 na die woning se aangeboude hokke gegaan waar Atashanie (4) haar hasie en klein George (18 maande) sy marmot kossies en blaarslaai sou voer.

Daar was ‘n groot lawaai en Atashanie het ‘n bloedstollende gil gegee. Haar ma, Natasha, was kort op haar hakke en het gesien hoe die bobbejane, wat rats oor die hekkie gespring het, vir haar babaseuntjie gaan. So klein soos wat George is, het hy homself in een van die leë hokke toegemaak, buite bereik van die koggelende bobbejane.

Die gesin se Pikanees, “met die groot hart”, Zorro, het deurlopend geblaf en die bobbejane “aangeval”, waarna ‘n bobbejaan hom opgeraap en in een van die bome gaan sit het. Natasha sê die hondjie het verskriklik getjank en sy het hulpeloos toegekyk hoe die bobbejane met hul lieflinghondjie die bosse in hardloop.
Me Marie Jordaan, Natasha se ma, het Natuurbewaring ontbied om die bobbejaantrop van kant te maak. “As ‘n moeder en ouma kan ek nie my kleinkinders in gevaar stel om buite te speel terwyl dié bobbejaantrop steeds in die omgewing is nie.”

In Junie 2003 het Rapport berig oor ‘n jong ma van Potchefstroom wat hulpeloos moes staan en toekyk hoe ‘n bobbejaan sy kragtige slagtande in haar drie maande oue baba se skedel ingeslaan het, tot op ‘n hoë telefoonpaal geklim en sy brein geëet het, voordat hy in die bos verdwyn het.

Kenners beweer dat die Streicher-voorval nie ooreenstem met ‘n honger bobbejaan nie. Hierdie bobbejaanwyfie het vermoedelik haar baba verloor en weens die sterk moedersinstink wou sy net weer ‘n baba hê om te versorg.

Desnieteenstaande, geen kind òf hondjie hoort in die kloue van ‘n bobbejaan nie.

Volgens mnr ND Seolwane van Natuurbewaring in Thabazimbi, sal hulle alles in hul vermoë doen om dié trop wel op te spoor. Indien hulle kan vasstel of die bobbejaan-trop ‘n gevaar en bedreiging vir die buurt inhou, sal die bobbejane van kant gemaak word.

Zorro het eers laatmiddag kruppelend terug huiswaarts gekeer. Sy dankbare gesin het hom blymoedig ingewag en sien tans om na sy beseerde ruggie en magie.

Kontak Natuurbewaring in Rietbokstraat by 014 777 1539 om soortgelyke gevalle aan te meld.