2 dood in motorongeluk

AMANDELBULT – Twee mense is dood en agt beseer nadat twee voertuie in ‘n botsing op die R510 naby Amandelbult betrokke was.

Die ongeluk het op Sondagmiddag 2 Oktober plaasgevind nadat die bestuurder van ‘n voertuig wat vanaf Northam se rigting na Thabazimbi onderweg was, beheer oor die motor verloor het en begin tol het.

Die voertuig het met ‘n bakkie gebots (“T-bone”) waarna die bestuurder van die bakkie ook beheer oor sy voertuig verloor en die bakkie gerol het.

Vier kinders en drie volwasse vroue was in die bakkie terwyl drie mans in die voertuig was. Twee mans is op die toneel oorlede.

Byna al die ongeluk-slagoffers is deur Netcare 911 na Amandelbult Hospitaal vervoer waar hulle gestabiliseer is en weer deur Limpopo EMS na Thabazimbi Hospitaal vervoer is.

Volgens Thabazimbi Hospitaal word slegs een ma en haar kind steeds behandel, terwyl die man weer teruggestuur is na Amandelbult Hospitaal.