VLU maak ‘n verskil in die natuur

Voor vlnr: Liz van Tonder, Hannetjie du Plessis, Marietjie en Jannie van der Merwe en Annatjie Dreyer, Voorsitster van Northam VLU. Agter: Cecile Dearlove, voorsitster van Thabazimbi VLU.

THABAZIMBI – Die Northam en Thabazimbi VLU-takke het op Donderdag 15 September 2011 te Aandrus Kwekery byeengekom vir hul maandelikse vergaderings.

In die lowerryke tuin van Marietjie van der Merwe is die onderskeie huishoudelike sake vinnig afgehandel, waarna Jannie van der Merwe ‘n insiggewende praatjie gelewer het insake die plant van inheemse bome. Hy het ook die nut en waarde van verskillende kruie aan die dames verduidelik.

Die burgemeesteres van Thabazimbi het die dames vergas met haar teenwoordigheid, en het heerlik saamgesels oor bome, plante en kruie, terwyl daar weggelê is aan vingerhappies.

Na afloop van die vergadering het die dames hul hande diep in hul sakke gesteek, en is met vragte plantjies, kruie en bome huistoe om te plant. Almal word aangemoedig om ‘n boom te plant in Septembermaand.

Vir meer inligting aangaande die VLU skakel Mari Meintjes  (Northamtak)  0820864915.