Stert-loos, stem-loos

THABAZIMBI – Sommige soorte honde se sterte word al vir die afgelope paar eeue afgesit. Aan die begin was dit sodat hulle vyande nie ‘n vashou plek kon kry in ‘n geveg nie. Nou veg honde nie meer nie (of altans, hulle is nie veronderstel om as veghonde gebruik te word nie.) Tog gaan hierdie praktyk voort.

Man, ‘n klein hondjie voel dit nie . . .

O ja?  Nou hoekom huil hy dan?  Volgens PAJ Ryke se Dierkunde handboek, is daar senuwees in elke deel van die soogdier se liggaam.  Dit sluit honde se sterte (en ore) in.  Dus, natuurlik kry hy seer! Hy weet net nie hoe om dit vir jou te sê nie!

Boon-op het hierdie gestert-afsnyery ander nadele ook:  Die wond kan septies word, as dit nie korrek versorg word nie. As die stert te kort afgesit word, soos onlangs in Thabazimbi gebeur het met ‘n baba-hondjie, kan die hond se vermoë om sy rektumspiere te beheer, verlore gaan. So ‘n arme hondjie maak dan vuil net daar waar hy is.  Wil jy so ‘n hond hê?  Nee, natuurlik nie. Die gevolg is natuurlik dat die arme diertjie uitgesit moet word, omdat jy nie van sy stert gehou het nie. (Nou wonder ek . . . wat gaan nou gebeur as ek nie van jou krom neus hou nie…)

Infeksie kan baie maklik intree, met die gevolg dat die hondjie dan behandeling van ‘n veearts moet kry.

‘n Hond se stert het ‘n baie belangrike funksie:  kommunikasie. Nie net kommunikasie met sy mense-familie nie, maar ook met ander honde. Hoe kan ‘n hond speelsheid, vriendelikheid, onderdanigheid ens. oordra aan ander honde, as hy nie ‘n stert het nie. Dit is kan tot gevegte tussen honde lei.

‘n Hond se stert is ook ‘n belangrike faktor in balans, veral wanneer honde swem.  Sonder sy stert sukkel ‘n hond om te stuur in die water.

Laastens net dit:  honde is geskape met sterte. Daardie stert het dus ‘n doel.  Wie gee die Mens die reg om te besluit dat ‘n hond beter lyk sonder ‘n stert?

Honde is net diere… ja, hulle is. Dit maak ons verantwoordelikheid teenoor hulle net soveel meer. Buitendien: navorsing het nou al genoeg bewyse gelewer dat ‘n hond meer as net ‘n tong, tande en stert is. As ‘n mens in ag neem watter take honde deesdae verrig, kan ons hulle gerus met ‘n bietjie meer respek behandel. Wie weet: dalk is dit ‘n hond wat jou eendag red van ‘n bom op ‘n vliegtuig; of uit ‘n brandende gebou; of jou uitsnuffel waar jy onder die puin van ‘n gebou lê. Onthou: daardie honde is spesiaal, omdat hulle spesiaal behandel word! Jy kan ook ‘n ‘spesiale’ hond hê – as jy jou ‘ou brak’ by die huis ook spesiaal behandel.

– Uitgereik deur Thabazimbi Animal Rescue (TAR).