SANParke kweek erfenis-trots

MARAKELE – SANParke het vanaf 12 – 16 September ‘n gratis toegang week geloods met die tema “Ken jou Nasionale Parke”.

Dit is ‘n jaarlikse instelling in Erfenismaand om vir ‘n week gratis toegang te bied tot die land se Nasionale Parke sodat diegene wat onder normale omstandighede, dalk nie die geleentheid sou gehad het om ‘n park te kan besoek nie.

Die hoofdoel vir hierdie week is om bewusmaking te kweek ten opsigte van Parke sodat mense ‘n gevoel van trots kan ontwikkel in SA se natuurlike, kulturele en historiese erfenis. Die publiek word op hierdie wyse ook ingelig oor die belangrikheid van die natuur en biodiversiteit en kry ook ‘n breër perspektief rondom die bewaringsrol wat deur SANParke gespeel word. Hierdie inisiatief is in lyn met die organisasie se Mense en Bewarings pogings om nasionale parke nader aan die gemeenskap te bring.