KANSA vier 80 jaar

KANSA se Lephalale-tak het 'n groot oggendtee gehou om die organisasie se 80ste verjaarsdag te vier. Hier is plaaslike voorsitter, Marika van Zyl, gaskunstenaar en digter, Saphira, Wilna van den Heever en Ansie Pretorius van Waterberg KANSA.

LEPHALALE – KANSA, die Kankervereniging van Suid-Afrika vier vanjaar hul tagtigste verjaarsdag. Die geleentheid is behoorlik gevier met ‘n deftige damestee op Erfenisdag in Lephalale.

“Leer om met jou hart te kyk,” was die roerende boodskap van die blinde digter, Saphira. Sy het van haar gedigte voorgedra en verduidelik hoe sy die skeppingsproses aanpak. Tot almal se verstomming het hierdie waagmoedige vrou ook haar talente as buikdanser, op die maat van die Briel-susters, gewys. “Ons vroue moet leer om nie skaam te wees vir ons eie sensualiteit, vir ons eie vrouwees nie,” sê sy.

Die gospel sangeres, Karien van Nieker, ‘n nuwe intrekker in Lephalale, het die gehoor vermaak met ‘n program oor die vier seisoene van vrouwees. Sy is ondersteun deur Elana Greyling en modelle van El Vie boutiek.

Marika van Zyl, voorsitter van die plaaslike KANSA-tak was uiters tevrede met die lieflike oggend, die gasvroue se pragtige tafels, en almal se bydrae om die dag ‘n sukses te maak.