Dalk nog twee kragstasies

LEPHALALE – Die Australiese myngroep Resource Generation (ResGen) het onlangs aangekondig dat ‘n kontrak met Intergrated Coal geteken is om 139 miljoen ton steenkool vir ‘n tydperk van 38 jaar vanuit die ResGen-Boikarbelo myn net buite Lephalale te lewer.  Integrated Coal Mining is deel van die RPG Groep in Indië.

Die RPG Groep besit ook ‘n private kragverskaffingsgroep CESC wat begin het met ‘n voor-lewensvatbaarheidstudie om twee 660 MW private kragstasies langs Boikarabelo te bou.

By die Fossil Fuel Foundation se Waterberg steenkoolveld konferensie wat Woensdag in Lephalale gehou is, het  Eskom se steenkool spesialis, Johan Dempers gesê dat daar moontlik nie in die toekoms weer ‘n kragstasie so groot soos Medupi gebou sal word nie. Die moontlikheid bestaan egter dat kleiner kragstasies wel hier opgerig sal word. “As daar maatskappye is wat wil belê in kragopwekking sal dit logies wees om kragstasies in die Waterberg op te rig weens die groot hoeveelhede steenkool in die area.”

Kommer is egter by die konferensie uitgespreek dat die regering by ‘n onlangse nasionale beplanningskommissie geen strategie vir steenkool bekend gemaak het nie. MAC Consulting se Dave Collins, adviseur vir onder andere Exxaro, het by die konferensie gesê dat daar baie internasionale druk is om van steenkool weg te beweeg. Hy het egter te kenne gegee dat daar weens die Fukushima katestrofe in Japan huiwering rondom kernkrag is. Hernubare energie bronne sal ook nie voldoende krag vir Suid-Afrika kan opwek nie. Daar is dus tans groot onsekerheid oor kragopwekking in Suid-Afrika en dit wil voorkom of rolspelers sit en wag vir die VN beraad oor klimaatsverandering wat in Desember in Durban gehou gaan word. LiN Nuus/Noordelike Nuus