95 vis tydens Hentiesbaai Hengel-ekspedisie

Hentiesbaai se hengel-ekspedisie groep van links na regs: Dawie Snyman, Albert van Zyl, Nic Olivier, Gert Nel, Herman Kroukamp, Gerhard Botha, Albert Boshoff en Dawie Maree.

HENTIESBAAI – Die Thabazimbi gemeenskap het kennis geneem van ‘n ekspedisie na Hentiesbaai om die jaarlikse Visfees te gaan bywoon en te gaan kyk of daar met ‘n paar visse huistoe gekom kan word.

Op Woensdag 24 Augustus om 06:00 het agt manne met drie voertuie by die Derdepoort grenspos aangemeld. Die grensposte is moeiteloos deurgewerk.  Na ‘n lang dag se ry het die konvooi op Okahandja in Namibië halt geroep om bietjie asem te skep.  Die volgende oggend het die voertuie na ontbyt see toe gedraai.

In Hentiesbaai aangekom is die blyplek betrek – ‘n gewone vakansiehuis wat genoegsaam in die groep se behoeftes kon voorsien. Die nodige aankope is gedoen, vislisensies uitgeneem en die hengelgerei is afgestof en aanmekaar gesit. Na heerlike Namibiese skaapvleis oor die kole is tot rus gekom – groot afwagting oor wat die dag van môre gaan inhou…

Vrydagoggend is almal baie flink uit die vere, die bakkies gepak en is daar met ‘n “gielie” in ons geledere na Winston se wrak vertrek. Vanaf Winston se wrak is teen die kus afgewerk in die rigting van Henties om by die gewilde hengelgate uit te kom. Vrydag kon die span 12 kabeljoue uittrek, onder meer die grootste ene wat vir die hele tydperk gevang is.  Natuurlik het die groep Vrydagaand vars vis en skyfies geëet.

Saterdag was die dag van die hengelkompetisie by die Visfees – die groep het daarvoor ingeskryf. Maar nogal teleurstellend kon net ses visse tussen die agt man gevang word – en nie een daarvan was die moeite werd om vir die kompetisie in te weeg nie …

Sondag het ds Albert Boshoff ‘n erediens in die gemeenskapsaal van Hentiesbaai gelei.

Maandag se hengel het 28 visse opgelewer; Dinsdag kon hulle met 33 visse huistoe gaan; Woensdag is 11 uitgetrek en Donderdag die laaste drie visse. In totaal is daar 95 visse gevang waarvan 92 kabeljoue was.

Die groep het Donderdagmiddag begin oppak, voertuie was en regmaak vir die terugtog huistoe. Vrydagoggend 05:20 is uit Hentiesbaai vertrek.  Daar is by Kang in Botswana oorgeslaap en die konvooi het Saterdagmiddag 14:00 by die AP Kerk Thabazimbi aangekom.

Die manne is daarmee eens dat dit ‘n heerlike ervaring was – die lang rit en die koud kry ten spyt.  Daar word al gedink aan ‘n volgende geleentheid.

Van die vis (kabeljou) wat teruggebring is word op Vrydag 14 Oktober 2011 vanaf 18:00 by die AP Kerk Thabazimbi gebruik vir ‘n vis-en-skyfies-restaurant. Borde kos kan teen R40 per bord bespreek word by die plaaslike kerkkantoor – 014-777 1689 weeksoggende tussen 08:00 en 12:00.

Die organiseerders wil elkeen wat saamgegaan het hartlik bedank. Ook dankie aan die gemeenskap vir hul ondersteuning.