Van 1 tot 5

Die groepie een arm boogskuts wat sedert November 2010 gegroei het tot ‘n vyftal, agter vlnr: Shaun Anderson, Dennis Postma en Daan Theron. Voor vlnr: Anita Peens en Hennie Myburg.

THABAZIMBI – “Eers was ek eensaam, toe is ons twee-saam, nou is ons ‘n handvol.” So sê Hennie Myburg, ‘n een-arm boogskut wat sedert 2007 aan hierdie sport deelneem.

Hierdie groepie een arm boogskuts het vanaf November 2010 tot Mei 2011 gegroei tot vyf een arm boogskuts wat ook almal by SANAA (South African National Archery Association) geregistreer is.

Vir Hennie was dit ‘n voorreg om die kennis en ondervinding wat hy deur die jare opgebou het met die res van die groepie kon deel. Soos byvoorbeeld wanneer ‘n een arm boogskut met sy/haar mond skiet, is hul eerste probleem oog hoogte, dit wil sê ankerpunt tot gaaitjievisier. Dit bepaal hoe ver die afstand is wat die persoon sal kan skiet.

Hennie het ‘n skouer “release” wat deur ‘n Kanadees ontwerp is wat die bostaande probleem oplos. Die skouer montering beloop R4500 vir elke persoon en Hennie wil graag ‘n Trust op die been bring vir donasies om sodoende vir elke een arm boogskut so ‘n apparaat te kan aanskaf.

Hou gerus die groepie besonderse skuts dop, wat nog diep spore in dié sport gaan trap.