Thaba se Morsjorse

THABAZIMBI – Na aanleiding van Dee Chapman se berig oor die morsjors wat sy vullis-sakke sommer in dorpsgebied van kant gemaak het in verlede week se uitgawe, het ‘n leser hierdie foto ingestuur van ‘n persoon wat reeds in Januarie sy vullis, wat hy met ‘n klein vragmotor aangery het, op die Marakele pad voor die Eskom depot afgelaai het.

Die vraag ontstaan dus, indien die persoon oor die weg beskik om die vullis aan te ry, waarom nie net die ekstra kilometer ry tot by die plaaslike asgate om daar sy sakke op ‘n beskaafde manier weg te gooi nie? Dorpsbewoners kan ‘n kaartjie by die Water en Elektrisiteitsafdeling van die Munisipaliteit ontvang wat hulle gratis toegang verleen tot die asgate waar hulle na hartelus al hul vullis kan rondstrooi.

Die leser het wel die persoon by die plaaslike Munisipaliteit gerapporteer, maar na sewe maande is die saak steeds nie aangespreek nie. Lesers word gevra om op die uitkyk te wees vir hierdie morsjorse, foto’s kan ingestuur word na kwevoel@kwevoel.co.za.