Seun se hand erg beskadig ná klapper ontplof

Werner Burger (links voor) het ernstige beserings aan sy hand opgedoen toe ‘n klapper daarin ontplof het. Hier staan hy by sy ouers, Teresa en Willie, en jonger sussie Melanie.

THABAZIMBI – Dit was meer as net ‘n groot skrik wat die 7-jarige Werner Burger gekry het toe hy ‘n klapper opgetel het wat in sy hand ontplof het op Saterdag 3 September.

Die skade aan sy regterhand was van so ‘n aard dat die gesin ‘n hele week in Pretoria deurgebring het sodat Werner naby aan die Pretoria-Oos Hospitaal was waar hy aanvanklik behandeling ontvang het van ‘n spesialis.

Werner het die boonste helfte van die eerste lid van sy middelvinger verloor en die gevoel in sy wysvinger gaan waarskynlik ‘n rukkie neem om te herstel omdat hierdie vinger se senuwee skade opgedoen het. Volgens die spesialis sou die skade meer permanent gewees het indien hy ouer was, maar die kanse is beter dat die gevoel sal terugkeer omdat hy nog jonk is. Steke is ook aan die binnekant van die duim aangebring om beskadigde weefsel te heg en die ringvinger het ook ‘n steek gekry. Die gedeelte van die handpalm tussen die wysvinger en duim is ook beskadig en selfs ‘n ligte vleiswond is aan sy bobeen opgedoen.

Nadat X-strale geneem is, het ‘n plaaslike dokter besluit om Werner na ‘n ortopeet te verwys omdat daar gevrees is dat beentjies in sy hand beskadig mag wees. Hy is Saterdagnag om 01:00 teater toe in die Pretoria-Oos Hospitaal waar die hand skoongemaak en geheg is. Maandag is die wonde weer ondersoek en skoongemaak en Dinsdag is Werner uit die hospitaal ontslaan. Vrydag is die wonde weer skoongemaak en verbind en monitering van die hand vind steeds plaas.

Werner, wat in Gr 1 by die Laerskool Thabazimbi is, vertel dat hy die klapper, wat waarskynlik oor die muur gegooi is vanaf ‘n naburige huis, opgetel het, omdat hy wou keer dat sy jonger sussie, die 4-jarige Melanie, dit optel. Volgens hom het dit nie gesmeul nie.

Dit blyk egter dat die klapper, wat ongeveer so groot soos ‘n man se pinkie was, opnuut geaktiveer was toe Werner dit optel. Dis toe dat die klapper in Werner se hand ontplof het.

Na die week van behandeling aan Werner se hand was hy darem weer Maandag 12 September terug in die skool, alhoewel vir die eerste paar dae maar net vir ‘n paar uur. By die skool moes die regshandige Werner maar met sy linkerhand probeer skryf. Dit gaan maar moeilik vertel hy en dit lyk nie so baie netjies nie. Hy sou ook eersdaags met fisioterpie-behandeling begin.

Werner se ouers, Willie en Teresa, het nog nie stappe geneem om die oorsprong van die klapper (en die ongeluk) vas te stel nie. Hulle sal egter bly wees as dié ongeluk as ‘n waarskuwing kan dien aan mense om versigtig te wees wanneer klappers hanteer word.

Hennie Pauw