My Pa dink hy’s Elvis

Die skitterende vertoning My Pa dink hy’s Elvis met Ben Kruger en Viljé Maritz word op 12 November by die KunsteGrot op die planke gebring.

THABAZIMBI – Ben Kruger, wat vroeër vanjaar as Grotoupa by die KunsteGrot te siene was, gaan ook met sy ander shows kom kuier. Die resultaat, “My Pa dink hy’s Elvis” is op 12 November hier. Die regiseur is Albert Maritz en die dramaturg is Reinet en Jan-Jan Nagtegaal.

Die storie draai om Pa Hennie, ‘n  Elvis nabootser, wat sy teësinnige seun saamsleep op sy Elvistoer deur die Karoo om geld in te samel vir Ma se “boobjob”. Teen die agtergrond van al die ou bekende Elvisliedjies ontknoop die spanning en drama wat die gesin se wanfunksionering onderlê. Pa en seun konfronteer hul kwessies met mekaar en met die wêreld – soms agter die skerms en soms voor die gehoor.

“Die stuk handel oor soveel meer as ’n man wat die platteland met sy Elvis-nabootsing platry.  In my lewe het daar al ’n hele paar aspirant-Elvisse op die verhoog my professionele pad gekruis, maar Ben Kruger s’n ruil ek vir nie één van hulle nie. Dis juis omdat Ben die broosheid van sy karakter – vokaal, maar veral ook as mens met ’n verlede wat in sekere opsigte onherroeplik tragies is – met ’n oortuigende innerlike dimensie aanvat.  Voorts is dit ook ’n stuk oor een van die mees verwikkelde tipe verhoudings wat bestaan: dié tussen pa en seun. Die seun is Hennie van Zyl en hy word met ’n sielsmeevoerende egtheid gespeel deur Viljé Maritz. My pa dink hy’s Elvis het baie meer emosionele opstoppers as wat enigiemand sou kon verwag.” Paul Boekkooi – Innibosfees.

Kontak Rita by 083 744 8559 om kaartjies te bespreek.