HFM ATKV-tak reik uit

Clarinda van de Wetering saam met een van die slagoffertjies by die Sentrum. Die ATKV-lede het speelgoed en storieboekies wat deur HFM-leerders geskenk is, by die sentrum afgelewer.

THABAZIMBI – Vier van HFM se ATKV-lede, Llewelyn Barber, Madelein Boshoff, Jeadine Jacobs en Clarinda van de Wetering, het op Saterdag 3 September vertrek na Hartebeespoort om die Jedidiah Safe Haven Crisis Centre te besoek. Juffrou Magriet Erasmus het die leerders vergesel.

Die Jedidiah Safe Haven and Crisis Centre is ‘n plek wat fokus op behoeftige kinders asook voorkoming en bewusmakingsveldtogte by skole.

Voorts is die doel van hierdie veilige hawe om slagoffers van mishandeling en seksuele misbruik te bemagtig eerder as om hulle ‘n wegkruipplek te bied.

Hulle probeer om die beginsel te kweek van om die kind te leer visvang, eerder as om elke dag vir hom ‘n vis te gee sodat die stukkende vlerkies weer heel kan word.

Alle slagoffers van enige ras en ouderdom word geakkommodeer tot die beste van hul vermoë met die gegewe hulpbronne beskikbaar.

Die ATKV-lede wil graag hul dank uitspreek teenoor al die HFM-leerders wat sagte speelgoed en storieboekies geskenk het. Dit is met groot waardering ontvang. Volgens die lede het die kindertjies sommer dadelik begin speel en lees.

Weereens het die leerlinge gesien hoe dankbaar hulle moet wees vir al die voorregte wat hulle geniet.

Hulle spreek ook die hoop uit om in 2012 dit weer te doen.