“Skiet die Boer” verklaar tot haatspraak

AfriForum het die nuus verwelkom dat die omstrede lied, “Skiet die Boer”, vandag tot haatspraak verklaar is.

“AfriForum is verheug oor die uitspraak. Dit stuur ‘n duidelike boodskap aan Malema uit dat hy nie verhewe bo die reg is nie en dat hy nie kan maak soos hy wil en polarisasie saai soos hy wil nie,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.

Regter Colin Lamont het in sy uitspraak gesê die lied ondermyn menseregte en is skadelik en diskriminerend. Hy het bevind geen regverdiging bestaan om die lied te sing nie.

Teen die tyd dat Malema Zimbabwe besoek het in April 2010, het daar duidelike polarisasie in Suid-Afrika ontstaan, het Lamont gesê. Hy het bygevoeg hierdie polarisasie bestaan vandag nog.

Lamont het voorts beveel dat Malema alle regskostes moet betaal.

“Die betekenis van die woorde maak so ‘n groot inbreuk op die teikengroep, naamlik wit Afrikaners, se menseregte dat dit die kostes wat Malema moet betaal, regverdig. Die lied sal nooit weer as skadeloos gesien word nie.”

TLU SA het in sy kommentaar op die uitspraak ’n beroep op die regering gedoen om in die lig van getuienis wat gelewer was, opnuut aandag te gee aan geweldsmisdade op plase en kleinhoewes asook ander misdade wat die volhoubaarheid van landbou bedreig. Dit is indringend noodsaaklik dat die werklike omvang daarvan sigbaar kan raak en indien die SAPD in staat is om detail by te hou van aanvalle teen lede van die SAPD, behoort die instandhouding van ’n soortgelyke databasis vir plaasaanvalle ewe haalbaar te wees. Die owerheid word opnuut versoek om oorweging te skenk aan die daarstelling van ’n spesiale eenheid wat teen sulke misdade kan optree.

Die uitspraak van regter Lamont gee gestalte aan TLU SA se pogings om haatspraak uit die Suid-Afrikaanse samelewing te verban en sodoende ’n bydrae te maak om die geweldadige viktimisasie van landbouers en plaasbewoners te stop. TLU SA doen ’n beroep op die ANC en Mnr Malema om die uitspraak te aanvaar, die vete te beëindig en om vreedsame naasbestaan en wedersydse respek tussen ras- en kultuurgroepe te bevorder. Die tyd om die verlede se gevegte ter syde te stel het aangebreek.