Provinsiale skaakspelers vir HFM

Die skaakspelers van HFM wat aan die SA Skaakkampioenskappe gaan deelneem, voor vlnr: Jonathan Viljoen, Me Leeze Odendaal (afrigter) en Hannelie van Rensburg. Agter vlnr: Adriaan Odendaal, Riaan Pieterse en me Rianda van Rensburg (organiseerder).

THABAZIMBI – ‘n Aantal HFM skaakspelers het vanjaar ingeskakel by Platinum skaak.

Die leerlinge moes aan verskeie skaaktoernooie deelneem ten einde te kwalifiseer om gekies te word vir die Provinsiale span. Die vier toernooie waarin hulle die beste gevaar het se punte word dan gebruik om die Provinsiale span te kies.

HFM se skaakspelers het besonder goed presteer en al vier word gekies vir die Provinsiale span wat vanaf 11 Desember 2011 gaan deelneem aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe te Port Elizabeth.

‘n Besondere woord van gelukwensing aan Jonathan Viljoen, Hannelie van Rensburg, Adriaan Odendaal en Riaan Pieterse.

Frikkie Meyer wil ook graag hulle dank uitspreek teenoor Mevrou Leeze Odendaal vir al die ure se afrigting en ondersteuning aan die leerlinge. Sonder haar sou hulle dit beslis nie kon regkry nie. Ook ‘n woord van dank aan Laerskool Platinum en Laerskool Thabazimbi wat die grondslag by die leerlinge gelê het.