Ons lesers skryf – Is menslikheid en empatie te veel gevra?

Ek voel die nood om ‘n sekere insident te deel met die lesers van Die Kwêvoël wat my vreeslik onstel het, maar tog gebeur dit elke dag al hoe meer. Dis nie “etiket” om ‘n voorskot op jou salaris aan te vra nie, dis nie die norm om jou werkgewer te vra vir finansiële hulp nie, alhoewel jy weet dat hulle in die finansiële posisie is om dit wel te kan doen.  Almal se lewenskoste het verhoog met die stygende pryse, werk is skaars en dié wat wel gelukkig genoeg is om ‘n werkie te kry, lewe baie keer skaars op die broodlyn. Maar tog, as die nood druk en jy geen ander uitweg het nie,  steek jy jou trots in jou sak en vra vir daardie bietjie ekstra finansiële hulp vir een ete meer op ‘n moeilike maand of een onverwagse prokureursrekening of dokters rekening wat betaling vra, met die wete dat jy vir die volgende paar maande dit sal terugbetaal. Die antwoord wat jy kry is soms skokkend en onmiddellik sien hul hulself in die welsynsrol dat dit die laaste keer is dat hulle jou sal help. Dit is soos ‘n glas yskoue water in die gesig. Indien die verkeerde redes agter die aanvraag geskuil het, of as dit ‘n gereelde ding is sonder waardeering, kon mens so ‘n reaksie dalk verstaan. Maar hoe gemaak as iemand in nood is en bietjie hulp en empatie verlang van hul medemens? Daarby word daar nie van die werkgewer verwag om die geld te skenk nie, maar is die werknemer bereid om dit maandeliks terug te betaal.  Is dit die manier om op te tree? Is dit hoe ons Vader sou geantwoord het? As jy jou hande saamvou en bid vir Die Hemelse Vader daar bo, wat is Sy antwoord aan ons, Sy kinders? Wat is ons pligte as kinders van God? Het ons Vader gesê dat Hy ons sondes sal vergewe, maar dis die laaste keer? Het Hy vir ons liefde en ondersteuning gegee, met so ‘n afgryslike voorwaarde? Help waar jy kan, gee wat jy kan, doen wat jy kan vir jou medemens, want DIT is wat jou Vader raaksien, dit is wat Hom laat glimlag wetend sy kinders gee om vir mekaar en staan mekaar by in tye van nood!

Geskokte medemens