My storie

Deur Tarrie die weggooi-tefie

Verlede week het ek julle vertel hoe ek by die mens met die sagte oë uitgekom het. Hierdie man het nie soos die ander man ‘n harde stem gehad as hy met my gepraat het nie.  Sy stem was sag en mooi as hy met my gepraat het. Net wanneer ek sy skoen so gryp en “Njarrrrrr” sê was sy stem hard as hy sy kop so agter-oor gooi en lag. Ek het baie van hierdie mens gehou. My magie was elke dag vol, en my lyfie was warm. Ek het baie lekker gebly – al het ek elke aand van my boeties en sussies gedroom.  Wat van hulle geword het, het ek nooit uitgevind nie.

Op ‘n dag verander alles toe weer.

My mensevriend het my weer in ‘n motor gelaai (ek het al uitgevind dis waarin ons die vorige keer ook vervoer is). Nadat ons ‘n hele ruk gery het, het ons gestop en my vriend het my uitgehaal en saam met hom na ‘n ander huis gevat. Hier is ek in ‘n klein hokkie gesit. Al my bang gevoelens het weer terug gekom. Watter plek is hierdie? Hoekom los my vriend my hier?

‘n Ander vrou het my kom uithaal. Ek wou nog haar gesig lek, toe steek sy my met ‘n ding. Sjoe! Dit was baie seer! Gelukkig het sy dit net die een keer gedoen! Daarna is ek teruggesit in die klein hokkie. Ek het myself aan die slaap gehuil. My hart was so seer omdat my liewe vriend my ook weggegooi het. Gelukkig darem nou nie in water nie, maar ek is alweer alleen. Ek het myself aand die slaap gehuil.

Ek weet nie hoe lank ek in daardie hokkie gelê het nie.

My magie was nooit leeg nie en ek het lekker warm geslaap, maar niemand het met my gespeel nie. Om my was ander honde en katte.  Hulle was almal net so bang soos ek. Party van hulle is vir rukke uit hulle hokke gehaal en weggevat. As hulle dan terugkom, slaap hulle baie lank. Met die wakkerword-slag kla hulle dan altyd dat hulle iewers seer het. Ek wonder hoekom word hulle so seer gemaak?

Een oggend kom staan daar ‘n vrou voor my hokkie. Sy gesels saggies met my. Ek kan nie verstaan wat sy vir my sê nie, maar haar stem sê vir my dat sy my nie sal seermaak nie. Die vrou wat gewoonlik vir my kos bring haal my uit die hok en gee my vir die nuwe vrou. Dit was die begin van ‘n nuwe lewe vir my. Hierdie vrou het my na ‘n huis toe gevat en my neergesit in ‘n lekker warm bedjie. Daar was ook ‘n ander vrou, ouer as sy. Sy het my opgetel en teen haar vasgedruk. Toe ry die vrou en laat my by die ou vrou bly. Sy het my weer in die bed neergesit.

Langsaan was ‘n bakkie kos en ‘n bakkie water. Al wat ek nodig gehad het om te doen, was om teen haar been op te staan, dan tel sy my op.  Daarna kon ek dan so lank as ek wil lekker op haar skoot lê terwyl sy my saggies vryf en onder my keel krap.

Ounooi, soos sy haarself genoem het as sy met my praat, het dan saggies met my gesels, asof ek haar verstaan en kan terugpraat. Dit was so lekker by haar en ek het baie lief geraak vir haar. Die gesig van my redder het stadig maar seker weggeraak. Ek het ook nie meer so baie van daardie aaklige dag in die water gedroom nie.

Gelukkig het ek nie geweet wat voorlê nie …

Enigiemand wat ‘n troeteldier wil aanneem by Thabazimbi Animal Rescue kan Tania kontak by 084 885 6487. Kontant donasies kan per internetoorbetaling gedoen word na: Thabazimbi Animal Rescue, Standard Bank Business Current Account, Rek Nr: 411000667, Takkode: 054 246.