Max vier lentedag op sy beste!

Max vier lentedag in rock met styl!

LEPHALALE – Loslitdag het almal in ekstase gehad met sy “rock” tema vanjaar en het lentedag behoorlike laat “boogie”.

Tussendeur die viering van lentedag, het ‘n jaarlikse instelling van ouds weereens geseëvier – die opening van die openbare swembaddens – ons kan nou “rock” in die water!

Max was een van die voorbokke om die ys (hitte) te breek en die koue water manhaftig aan te vat. Die oulike 3-jarige yorkie was in sy element toe sy ounooi, Ronel Jacobs hulle swembad se hek “offisiël”  geopen het. Met sy “boogie” bord en al is hy die water in en het tot laatmiddag gebaljaar en sy sopnat lyfie laat “rock” soos hy die yskoue water van hom afgeskud het.

Dis miskien nog bietjie vroeg vir die Gautengers om die koue water aan te durf, maar as jy in die bosveld woon, kan jy maar inspring en die koue lafenis geniet. Een van die voordele om in die Limpopo Provinsie te woon, is die waarborg om eerste te spog met ‘n bruingebrande lyf. Onthou net om die sonbrand room met die hoë UV beskerming nader te skuif – die son is warm en die ligstrale is uiters gevaarlik.

Kom ons klink ‘n glasie op somer!

Dee Chapman