HFM Toneel skreeusnaaks

Frikkies se Toneelgroep, voor vlnr: M Smith (hulpafrigter), H Smith (Regisseur) en C Maré (koördineerder en hulpafrigter). Middel vlnr: R Prinsloo (verhoogbestuurder), B Visagie, M Maré en C Theunissen. Agter vlnr: B Labuschagne, G Benadé en S Mckenzie (klank en beligting).

THABAZIMBI – Lyk Lollery uit die pen van dramaturg, Dorette Nel, is die skreeusnaakse toneelstuk wat hierdie jaar deur die Frikkies Toneel op die planke gebring is.

Lyk Lollery speel af in die sitkamer van Bossie en Jeanette in Willowmore in die Karoo. Bossie (gespeel deur Brian Labuschagne) is die eienaar van sy eie gearbox centre.

Benita Visagie is Jeanette, Bossie se vrou, Gerhard Benadé is Skroef, Bossie se mechanic tjommie en Melandri Maré vertolk die rol van die TV-inspekteur.

Dit is Saterdagmiddag net voor ‘n groot rugbywedstryd. Alles is rustig totdat die skril lui van die deurklokkie ‘n salige rugbykyk-middag in ‘n skreeusnaakse nagmerrie verander.

By die deur staan ‘n TV-lisensie-inspekteur . . .

Lyk Lollery se regisseur is mnr Henco Smith.

Onder die baie bekwame regisseurshande van mnr Smith behaal hulle ‘n tweedeplek by die Interhoër op Potgietersrus en Gerhard Benadé word aangewys as die beste byspeler van die dag en mnr Smith as die beste regisseur.

Op Maandagaand 22 Augustus tree hulle op by die ATKV Toneelfees in die UNISA Little Theatre in Pretoria. Hier ontvang hulle uiters gunstige kommentaar en ontvang Benita Visagie en Gerhard Benadé silwer medaljes en Brian Labuschagne en Melandri Maré bronsmedaljes. Mnr Henco Smith ontvang ook ‘n brons medalje as regisseur van die toneel.