‘n Dag in ‘n rolstoel

Onderwysers van HFM wat hul steun vir Loslitdag vertoon het saam met Magriet wat die dag in ‘n rolstoel spandeer het. Agter vlnr: Francois du Toit (Geografie), Belinda Coetzee (Engels), Nelré Benade (Engels) en Carol Badenhorst (Engels). Voor: Magriet Erasmus (Afrikaans).

THABAZIMBI – “Dit was pret vir ‘n dag” en “ons kon nie ons werk doen nie”, was die kommentaar van die enkele (moedige) persone wat ingestem om op Vrydag 2 September, nasionale Loslitdag, tyd in ‘n rolstoel deur te bring.

Slegs twee instansies het die uitdaging van Thabazimbi se X-treme Adventures 4 the Disabled aanvaar om ‘n verteenwoordiger tydens Loslitdag in ‘n rolstoel te laat deurbring, naamlik Hoërskool Frikkie Meyer (HFM) en First National Bank (FNB).

Magriet Erasmus, leerkrag by HFM, het Vrydag uit die rolstoel klasgegee. Gelukkig is haar klas op die grondvloer en het sy al ‘n voorsmakie gehad van rolstoel-gebonde wees nadat sy vroeër ‘n voetoperasie ondergaan het.

Dit was pret, sê sy. Van die ander onderwysers het gedink sy het by die trappe afgeval en moet ‘n operasie ondergaan en van die kinders het haar lekker vinnig op en af in die gang gestoot, so sy het die dag geniet.

Haar voete het ook lekker gerus, sê Magriet, maar vir iemand wat ‘n persoon van “durf en daad” is, was een dag genoeg. So passief sal sy nie vir lank kan wees nie.

Vir die werknemers van FNB wat ingestem het om die dag in ‘n rolstoel deur te bring, was dit meer van ‘n nagmerrie.

Adri Serfontein se probleme het reeds begin toe sy die rolstoel moes gaan haal en aflaai by die bank. Selfs sy kon dit nie op haar eie doen nie, wat haar dadelik laat besef het hoe afhanklik iemand in ‘n rolstoel is van ander se hulp.

Op die ou end was dit net Christopher Visagie van FNB wat sowat ‘n uur in die rolstoel deurgebring het. Maar hy kon dit net vir ‘n uur doen. Dit was maand-einde en die bank was vreeslik besig. Om net te beweeg tussen sy lessenaar en die drukker, ‘n rit wat gereeld afgelê moet word, was moeilik en vreeslik ongerieflik, vertel hy.

Na sowat ‘n uur moes hy en Adri by die tellers uithelp en dáár kon nie een van hulle in die rolstoel werk nie, aangesien die toonbank heeltemal te hoog is vir iemand in ‘n rolstoel.

Wat haar persoonlik baie geraak het, vertel Adri, was dat sy die volgende dag die rolstoel kon teruggee, iets wat natuurlik nie vir permanente gebruikers moontlik is nie. Sy was nog altyd dankbaar dat sy kan loop, vertel Adri, maar haar ondervinding met die rolstoel het haar meer as ooit laat besef “hoe dankbaar om te wees”.

FNB onderhandel tans met die Munisipaliteit om geskikte parkering vir gestremdes by die bank te skep. Dit behels hoofsaaklik dat ‘n oprit by die randsteen gemaak word, asook twee breër parkeerareas naby die ingang van die bank. Geskikte tekens moet ook aangebring word.

Hennie Pauw