Verstopte riool en water tekorte te danke aan stakers

‘n Privaatkontrakteur het die afgelope naweek daarin geslaag om obstruksies soos dié uit die hoofrioollyn te verwyder. Sand en klippe is deur stakers in die rioolpype gestort.

THABAZIMBI – ‘n Staking van munisipale werkers waartydens werksmag weerhou word is ver verwyder van die sopas-afgelaste staking waartydens doelbewuste pogings deur die Thabazimbi stakers geloods is om die werking van die rioleringstelsel en watervoorsiening te ondermyn.

Riool het die afgelope week in Rooikuilspruit, wat deur die dorp kronkel, opgestoot as gevolg van verstoppings langs die hooflyn, wat onder die spruit deur na die rioolplaas loop. Die verstoppings, wat deur stakers veroorsaak is, het veroorsaak dat die riool by mangate, wat sowat elke 60 m tot 80 m in die hooflyn voorkom, uitborrel en in die spruit beland. Sulke verstoppings kan selfs daartoe lei dat riool terugstoot in die toilette van huise in laagliggende gebiede.

Klante het gekla oor die reuk wat in die omgewing van die spruit voorkom en werknemers van Morgans het chemikalieë in die spruit gegooi om die reuk te probeer verbeter.

Gedurende die naweek het ‘n privaatkontrakteur van Pretoria, met ‘n spesiale voertuig, daarin geslaag om die hooflyn oop te maak nadat stakers verlede week klippe, sand en sandsakke in die rioolpyp gegooi het. Hierdie voertuig was reeds verlede Woensdag gereed om met die werk te begin, maar stakers het gedreig om die voertuig aan die brand te steek toe dit by Tegniese Dienste se kantore, waar die stakers byeen was, verby wou gaan.

Die kontrakteur het Vrydagaand in Hibiscuslaan begin en teen Sondagaand 18:00 was die rioolpyp oop. Deur die loop van die naweek het stakers weer obstruksies in die rioolpyp veroorsaak, maar dit is ook verwyder.

Intussen het ‘n wateronderbreking ontstaan nadat ‘n waterpomp by een van die dorp se boorgate gebreek het. ‘n Nuwe pomp is deur Kumba voorsien en was teen Woensdag vervang.

Verdere wateronderbrekings het tydens die naweek voorgekom as gevolg van stakers wat krane langs die toevoerlyn tussen die pompstasie en die reservoir toegedraai het, om te verhoed dat die reservoir gevul word. Hulle het ook brandkrane in Regorogile oopgedraai sodat die reservoir kon leegloop. Duisende liter water is op hierdie manier vermors.

Volgens DA-raadslid Paul Scruton, is dit moeilik om te verstaan waarom stakers, wat meer geld van die Munisipaliteit eis, dieselfde Munisipaliteit finansiële skade berokken, aangesien die staking duisende rande se skade berokken het.

Volgens Mishak Boskraal, voorsitter van die Thabazimbi-tak van die South African Youth Council, keur sy organisasie nie die optrede van die stakers, waartydens die dorp vervuil word, goed nie. Die gemeenskap het die reg op ‘n skoon dorp, sê hy. Hy meen munisipale werkers het die reg om te staak, maar nie om die dorp te vervuil nie.

Hennie Pauw