Thaba dra sy horing met trots

Carla Viljoen, Miss Teen Limpopo en Manani Fuwele, Miss Limpopo 2011, open die HH4H pretstap wat op Saterdag 27 Augustus plaasgevind het.

THABAZIMBI – Die High Heels for Horns renosterbewarings-funksie wat deur Miss Summer Heat Limpopo, Carla Viljoen en Miss Limpopo, Manani Fuwele, georganiseer is, maak deel uit van die liefdadigheidswerk vir hul jaar as kroondraers van dié gesogte titel.

Die gemeenskap van Thaba het hul steun vir renosterbewaring duidelik laat blyk met die 2km pretstap in hul fraaiste hakkies. Verder het handgeskrewe slagspreke op T-hempde en plastiek horings hul standpunt teen renoster uitwissing oorgedra. Min is gesê oor die blasies wat heel moontlik op party manne se voete opgeduik het na die pretloop. ..Pryse is oorhandig vir die hoogste hakkie asook die fraaiste hakkie.

Deur die loop van die oggend het die gaskunstenaar en seremoniemeester S’posh Petshwa (idols finalis) die gehoor met haar solosang en goeie aanbiedingstegniek betower terwyl Gary Forwood die bosveld aan die brand gesing het.

Interessante praatjies deur heelwat kundiges op die gebied van renoster- en wildbewaring is gelewer en selfs die Marimba orkes van Thabang het ‘n nommertjie of twee aangebied.

Daar was genoeg voedsel- en drinkgoedstalletjies om lafenis te bied teen die eerste somersonstrale en Kinderland met hul lekkergoed, ballonne en springkasteel was ‘n groot trekpleister vir die jongspan.

Nog ‘n hoogtepunt van die dag was die skoonheidskompetisies met die titels Miss HH4H, Miss HH4H petite en Miss HH4H tiny gevolg deur ‘n aansit driegang maaltyd uit die boonste rakke, deur die Plaaskombuis.

Carla sal in Desember die opbrengs vir die dag bekend maak wanneer die amptelike oorhandiging aan Mission Rhino na afloop van al die provinsies se HH4H pretlope plaasvind.

As deel van haar diensjaar poog Carla daarin om Thabazimbi se naam hoog te hou en daarmee saam ‘n goeie voorbeeld te stel deur akademies haar bes te lewer. Sy bedank die gemeenskap vir hul betrokkenheid by die HH4H-dag, asook Hennie en Christa van Twilight Breeze wat met die dekor die Trollope saal in ‘n sprokieswêreld omskep het. Besoek gerus www.missionrhino.za.org vir meer inligting oor renosterbewaring. Foto erkenning: Rian Geldenhuys.