Ons lesers skryf – High Heels for Horns

Ons het Saterdagaand die High Heels for Horns funksie by die Trollope saal bygewoon. Ons was regtig aangenaam verras met die standaard van die funksie – die pragtige saal, goeie vermaak ensomeer. Vir baie van die gaste was die praatjie wat deur Cara du Bruyn van Gitta Martula gelewer is ‘n hoogtepunt siende dat bewaring en dierewelsyn ons na aan die hart lê.

Wat ‘n teleurstelling dat die ongeveer 20 klein kindertjies wat daar was die hele aand bederf het. Hulle het so rondgehardloop en geraas dat niemand Cara se praatjie kon hoor nie (en van die gaste weet ook nie dat dit goeie maniere is om stil te bly wanneer iemand ‘n voorlegging doen nie!)

Die betrokke ouers moes geweet het dat dit ‘n funksie vir volwassenes was en kon die kinders dus elders akkommodeer of ten minste gesorg het dat hulle die res van die gaste nie steur nie.

Gewoonlik is dit lekker om te kan sê dit is ons dorp en ons mense! Saterdag was dit nie die geval nie – ons was skaam om deel te wees van die gemeenskap en moes noodgedwonge die betrokke persone verskoning vra vir ander se swak gedrag.

Geraldine en almal wat betrokke was – julle funksie was besonders!

Annelie Pelser