Northam Boerevereniging hou jaarlikse vetveeveiling

Erich Herholdt, sy eggenote Krystle, en Elri met die trofeë wat hul verower het tydens die Northam Vetveeveiling.

NORTHAM – Die Northam Boerevereniging het op 17 Augustus 2011 hul jaarlikse Vetveeveiling aangebied.

Die onderskeie afdelings waarin diere ingeskryf is, was: Beste Groep van vier Ongewissel, Wenner uit Groep van vier, Beste Groep van vier Gewissel, Wenner uit Groep van vier Gewissel, Swaarste Slagkoei en Swaarste Bees op Veiling.

Die borge vir die pryse was Vleissentraal, Voermol, Obaro Northam, Boernor en Virbac. Pragtige trofeë is oorhandig aan die wenners in elke kategorie, asook sertifikate vir eerste-, tweede- en derdeplekke. Noemenswaardig is Erich en Krystle Herholdt van Dwaalboom wat ‘n wenplek verower het met die Swaarste Bees op Veiling, ‘n bielie van ‘n Bul wat die skaal laat kreun het met 1350kg.

Erich was ook die wenner in verskeie ander afdelings met eerste- en tweedeplekke. Krystle was die wenner van die Swaarste Slagkoei, asook ‘n eerste-, tweede- en derdeplek vir die beste groep van vier Gewissel. Ockie Goossen was die beoordelaar, en Neil Swart was die afslaer van hierdie suksesvolle Vetveeveiling.