SAMWU Staking saai verwoesting

Bande is aan die brand gesteek en deur polisiebemiddeling is dit verwyder, die vuur deur die Brandweer geblus en die pad weer oopgemaak.

THABAZIMBI – ‘n Dooie hond, brandende bande in die pad, geslote hekke, verstopte riool en geen water vir Brandweerwaens – dit was kwessies wat gepaardgegaan het met die SAMWU-betogers se stakingsaksie by die Munisipaliteit se Tegniese Dienste Afdeling Woensdag 25 Augustus.

Die dooie hond, wat betogers blykbaar iewers in ‘n veld opgetel en voor die ingang na die Tegniese Dienste-kantoor geplaas het, was na alle waarskynlikheid reeds twee dae dood. Nadat gerugte die rondte gedoen het dat die hond aan die brand gesteek is, het TAR (Thabazimbi Animal Rescue) aangedui dat hulle die saak sal ondersoek om vas te stel of ‘n saak van dieremishandeling ondersoek moet word.

Vroegoggend reeds was die openbare pad verby die Tegniese Dienste kantoor deur die polisie en verkeerspolisie toegemaak nadat bande en rommel in die pad gebrand is waar die stakers byeengekom het. Die hekke na die Verkeers-, Ambulans-, Brandweer- en Werkswinkel is gesluit en nie-stakende munisipale werknemers kon vir ‘n ruk lank nie die perseel verlaat nie. Die doel was waarskynlik om van die noodsaaklike dienste tot stilstand te bring aangesien sekere dienste van die Munisipaliteit nie deur die staking geaffekteer mag word nie en voortgaan soos gewoonlik.

Baie van die van die noodsaaklike dienste-operateurs is egter ook lede van SAMWU, maar mag nie staak nie.

Op een stadium Woensdagoggend was daar ses polisievoertuie op die toneel en is die hekke na die Verkeersafdeling geopen en brandende bande verwyder. Die stakers is ook deur die polisie aangesê om nie die publieke pad te versper nie. Die Brandweer het gehelp om die vuur in die pad te blus, ten spyte van vroeëre dreigemente dat die Brandweervoertuig aan die brand gesteek sal word.

In die loop van die oggend is die hoofrioolpyp na die rioolplaas verstop toe stakers klippe in die pyp gegooi het. Riool het in die pyp teruggestoot en het in die Rooikuilspruit begin opdam.

‘n Diensvoertuig, wat deur private persone gekontrakteer (en betaal) is om die rioolpype skoon te spuit, is deur die stakers verhoed om die perseel in te gaan en die blokkasie te verwyder. SAMWU-leiers het gesê dat omdat die rioolvoertuig van buite gekontrakteer is, gaan hulle dit nie deurlaat nie. Een van hulle eise is dat geen dienste uitgekontrakteer word nie.

Die polisie het aangedui dat hul taak is om seker te maak dat die verkeer vrylik beweeg, maar dat hulle nie betrokke mag raak of kant kies in die dispuut tussen die stakers en die munisipale bestuur nie. Daarom kon hulle nie die rioolvoertuig begelei of die stakers keer om dit te stop nie.

Intussen is die krane na die Brandweer Afdeling toegedraai deur stakers. Niemand behalwe stakende werkers weet waar die kraan is nie. Die Brandweerwaens kon dus nie hier tenks hervul nie, maar het wel later water in die dorp getap.

Op ‘n navraag waarom die polisie nie meer daadwerklik optree teen die stakers nie, is daar verduidelik dat geen versterkings beskikbaar is nie, omdat dieselfde situasie in al die omliggende dorpe geld.

Voorts moet die situasie voortdurend evalueer word en op film vasgelê word sodat arrestasies na die tyd gedoen kan word. Tans word twee klagte, een van Openbare Geweld en ‘n verkeerswet oor die versperring van paaie ondersoek. Indien hierdie sake verder gevoer word kan SAMWU-leiers aanspreeklik gehou word vir die oortreding van wette.

Volgens die polisie moet die polisie se gedrag tydens ‘n optog van so ‘n aard wees dat dit nie die skare buite beheer laat raak en in nog groter skade tot gevolg sal hê soos brandstigting en plundering van huise en winkels nie.

In ‘n onderonsie tussen DA-raadslid, Paul Scruton, SAMWU-leiers en die SAP, het dit weer duidelik geword dat ‘n beter basis vir onderhandeling binne die dorp dringend benodig word. Tussen die frustrasie van die publiek oor die stakers wat wat chaos saai en onhaalbare hoë eise stel, die oënskynlik onwilligheid van die polisie om teen stakers op te tree en die woede van die stakers en hul ongelukkigheid met werkgewers, blyk dit dat baie werk voorlê vir almal wat om ‘n onderhandelingstafel moet gaan sit, nasionaal, maar ook plaaslik.

Hennie Pauw