Gestremdes, wees gegroet!

George Mogwai, kok by Medi-Clinic, het sy been as gevolg van gangreen verloor, maar spog nou met ‘n splinternuwe kunsbeen, danksy donasies van kollegas en Xtreme Adventures.

THABAZIMBI – Op Loslitdag, wat vanjaar op Vrydag 2 September val, verskuif die aandag vir ‘n kort wyle na gestremde persone, ook hier in Thaba, en word gepoog om die verhale van diegene in rolstoele, dié wat ledemate verloor het, asook gesig- en gehoorgestremdes te vertel.

Die Kwêvoël het bietjie ondersoek gaan instel na die oorsake waarom party mense in rolstoele gekluister is. Daar is egter gevind dat elke persoon ‘n verhaal het om te vertel; party ly aan siektes, ander was in ongelukke betrokke, en by ander speel ouderdom ‘n rol.

Hulle moed, deursettingsvermoë en blymoedigheid is telkens die eienskappe wat stomslaan. Feitlik almal van hulle staan in beroepe, sommige blink uit in sport en ander beoefen stokperdjies. Dis byna asof hulle meer uit die lewe haal as die gemiddelde “normale” persoon. Hulle leef voorwaar hul leuse van “My disability is my strength”.

George Mogwai, 30-jarige kok by Medi-Clinic, het sy been verloor aan die begin van die jaar nadat hy sowat 8 jaar gelede ‘n infeksie in sy voet opgedoen het en vir lank met gangreen gesukkel het. Dit was ‘n onverklaarbare siekte, vertel George, aangesien hy nie ‘n besering opgedoen of ‘n seerplek gehad het nie.

Vir byna 8 jaar was hy feitlik permanent op pyn- en ander medikasie. Hy moes handevol pille sluk, vertel hy, en niks het gehelp nie, en hy het vreeslik maer geword. Op ‘n dag het sy voet net eenvoudig oopgebars en is daar besluit om sy linkerbeen onder die knie te amputeer.

Vir George was dit byna ‘n verligting, want vir die eerste keer was hy sonder pyn. Vir sowat sewe maande na die amputasie het hy met krukke en ‘n stoel met wieletjies oor die weg gekom, terwyl hy met sy werk as kok voortgegaan het.

In Julie vanjaar is daar egter genoeg geld ingesamel deur die personeel en dokters van Medi-Clinic, wat, saam met ‘n skenking van X-treme Adventures, gebruik is om ‘n kunsbeen vir George aan te skaf.

Bietjie meer as drie weke nadat George sy kunsbeen gekry het, loop hy feitlik normaal. Hy het nie veel langer as ‘n week gesukkel met die been nie, vertel George, toe is hy dit gewoond.

Hy vertel dat sy hart “saam met hom gepraat het” en dat hy elke dag gebid het, want hy wou werk, omdat hy nog jonk is. Gou het hy die trappe baasgeraak en een van die dae sal hy probeer hardloop of draf met die been.

Gemaklik haal dié boorling van Steenbokpan sy kunsbeen af om te demonstreer hoe dit werk. Ja-nee, George Mogwai beskou homself as ‘n gelukkige persoon.

Hennie Pauw