Brande teister hele Thabazimbi-gebied

Brande in die Thabazimbi-omgewing wat vanaf Saterdag tot Dinsdag groot verwoesting gesaai het, is met die hulp van die Anglo nooddiensspanne, WoF, die Munisipaliteit en boere geblus nadat groot persentasie weiding afgebrand het. Foto: Werner Taljaard.

THABAZIMBI – Vanaf die afgelope naweek tot Dinsdag het vier verskillende vure om Thabazimbi gewoed, bo en behalwe ‘n brand wat redelik vinnig onder beheer gebring is by die Northam Vendusiekrale.

‘n Brand wat by Leeupoort verwoesting gesaai het en tussen 5000 en 6000 ha afgebrand het, het feitlik al die geboue op die plaas Rietdal, waar Sunset Ranch is, vernietig. Hieronder is ‘n lodge, chalets en ‘n woonhuis. Twee woonhuise op die eiendom het bly staan, maar die geboue met grasdakke het afgebrand.

Volgens Ben Cohen, eienaar van die plaas Leeupoort, het hy feitlik al sy weiding verloor, asook die nabygeleë plaas van Robert Hofveld, Rietfontein. Kleinwild het skade gely asook infrastruktuur soos elektriese drade.

‘n Geweldige sterk wind het die vuur, waarvan die oorsprong onbekend is, teen ‘n geweldige tempo vorentoe gewaai, eers in ‘n suidelike rigting en later oos. Die vlamme van by die 6m hoog het in die bome ingewaai van waar kooltjies spronge tot so ver as 30 m gemaak het, vertel Cohen.

Ten spyte van goeie voorbereidings en deeglike brandbane en goedgemerkte blokke het die vuur oor die groot pad, wat aan weerskante brandbane gehad het, gespring. Daar was net geen keer aan die vuur nie. Teen Woensdagmiddag was die boere van die omgewing steeds bedrywig om die vuur ten volle onder beheer te bring. Spanne van die Munisipale Brandweer en Kumba was behulpsaam met die bestryding van die brand.

In die Meletse-omgewing het ook sowat 3 000 ha afgebrand Dinsdag toe Eskom kabels in die wind vonke veroorsaak het wat die veld aan die brand gesteek het. Working on Fires-spanne en boere in die omgewing het die vuur Dinsdagnag onder beheer gebring deur teenbrande te maak. Die wind het teen hierdie tyd begin bedaar.

Die brandweer van Bela-Bela was ook betrokke by die brandbestryding en Modimolle en Mogalakwena se Brandweer was op bystand.
Om Thabazimbi het daar twee vure tydens die afgelope naweek gebrand, op die twee berge noord en suid van die dorp. Vanaf die skietbane het vuur Vrydagmiddag versprei teen Kumba-berg op. Al drie die Anglo-myne het hard gespook om die vuur onder beheer te bring en het daarin geslaag teen Sondagaand.

Op ‘n onverklaarbare wyse het die brand egter Maandag oor middagete weer vlam gevat en met die wind wat gewaai het, het dit heeltemal buite beheer begin brand. Sowat 9 000 ha het afgebrand, voordat die vuur finaal onder beheer gebring is.

Terselfdertyd het die berg aan die noordekant van Thabazimbi, ook genoem Bothasberg, oor die naweek sleg gebrand tot teenaan Heuwelkruin woongebied, die plotte noord van Warmbadweg en tot teenaan die pad by die treinbrug. Ook hier is die vuur onder beheer gebring deur teenbrande te maak deur die Thabazimbi Brandweerdienste en die Thabazimbi Verkeerspolisie.

Nog brande het Woensdag in die Koedoeskop/Northam-gebied uitgebreek, maar kon nie beveg word nie omdat dit in die berge gebrand het. Nog ‘n brand het Woensdag in die Sentrum-omgewing begin nadat gras waarskynlik by die Padkamp aan die brand gesteek is.

Hennie Pauw