Skaarswild by Alldays

‘n Nuwe SA Rekord is behaal vir Split Gemsbokke wat teen R40 000 onder die Vleissentraal Bosveld-hamer gekom het tydens die Soutpansberg Skaarswild Studiegroep-veiling.

ALLDAYS – Die Soutpansberg Skaarswild Studiegroep het op 12 Augustus ‘n wildveiling te Alldays gehad wat deur Vleissentraal Bosveld aangebied is.

Die wild wat onder die hamer gekom het, het bestaan uit uitsonderlike manlike teeldiere, manlike jagdiere, teeltroppe en jong diere wat van goeie genepoele afkomstig is. Swartwitpens-teelbulle, volwasse koeie, jong vroulike teeldiere, jong bulle en njalabulle was in hokke te koop aangebied, terwyl renosters, bastergemsbokke, jong swartwitpensbulle, njala-teeltroppe en addisionele bulle per katalogus onder die hamer gekom het.

Volgens Bosveld Vleissentraal was dit ‘n baie goeie aanbod van skaars wild. Die reklame vir die veiling was ook uitstekend onder die bekwame leiding van die dinamiese Johan Kruger, Voorsitter van die Studiegroep. Dit het tot gevolg gehad dat ‘n onbekende aantal mense die veiling bygewoon het van sover as Kimberley en Mosselbaai.

Die diere was in ‘n puik kondisie aangesien dit baie ervare wildvangers is wat die wild gevang het.

‘n Nuwe SA rekord is opgestel vir drie Kruger Buffelverse wat verkoop is vir R650 000. Die vorige rekord was R325 000.

Vir die eerste keer is ‘n Split Gemsbok verkoop vir ‘n bedrag van R40 000 wat op die SA rekord aangeteken sal word.

Die teelgroepe en vroulike diere in hokke het die volgende pryse behaal: vier jong gemengde buffels teen ‘n gemiddeld van R175 000, twee jong buffelverse teen ‘n gemiddeld van R225 000, 17 Livingstone elande teen ‘n gemiddeld van R31 883, sewe Livingstone elande en een dragtige eland teen ‘n gemiddeld van R36 000, 16 njalas teen ‘n gemiddeld van R6860, twee swartwitpense teen ‘n gemiddeld van R150 000, 10 swartwitpenskoeie teen ‘n gemiddeld van R182 000, 15 swartwitpensverse teen ‘n gemiddeld van R191 000 en ses split gemsbok koeie teen ‘n gemiddeld van R40 000. Die manlike diere op hok het die volgende pryse behaal: ses volwasse buffels teen ‘n gemiddeld van R64 000, een jong buffel teen R37 500, 13 Livingstone elande teen ‘n gemiddeld van R21 616, vyf njalas teen ‘n gemiddeld van R11 650, 11 swartwitpense teen ‘n gemiddeld van R74 046 en 21 jong swartwitpense teen ‘n gemiddeld van R28 119. Die omset vir die veiling op hokke en boma was R9 390 500.

Die teelgroepe en vroulike diere per katalogus het die volgende pryse behaal: drie bastergemsbokke teen ‘n gemiddeld van R80 000, drie Kruger buffelverse teen ‘n gemiddeld van R650 000, vyf Livingstone elandkoeie teen ‘n gemiddeld van R35 000, ses gemengde wit renosters teen ‘n gemiddeld van R220 000, twee wit renosterverse teen ‘n gemiddeld van R275 000 en vier swartwitpensverse teen ‘n gemiddeld van R145 000.

Die manlike diere per katalogus het die volgende pryse behaal: drie bastergemsbokke teen ‘n gemiddeld van R32 500, een Kruger buffel teen R90 000 en een Livingstone eland teen R35 000. Die totale omset vir katalogusdiere was R5 037 500. Die totale omset vir die veiling was R14 428 000.

Die studiegroep is in April 2009 gestig en bestaan uit 24 lede wat noord van die Soutpansberg, tussen Musina en Swartwater, hulle onderskeie boerderye bedryf. Die uitsluitlike doel van die vereniging is om genepoele te verbeter en die skaarser wildsoorte se getalle te vermeerder deur middel van intensiewe boerdery.

Die afslaer was Willie Roux.