Rhino’s vier onoorwonne seisoen

Die Northam Platinum Rhino’s se Eerstespan het as wenners van die Waterberg Liga uit die stryd getree. Vlnr: Afrigter Gustaf Grobler met die Waterberg Liga skild saam met die Eerstespan kaptein Flip de Kock.

SETARIA – Die Northam Platinum Rhino’s het ‘n onoorwonne rugbyseisoen beleef met die Eerste- en Tweedespanne wat al hul wedstryde in die Waterberg Liga gewen het.

Op Vrydag 5 Augustus het die Rhino’s teen Mogol in die Finale vir die Waterberg Liga te staan gekom. Hulle wen albei hul wedstryde met die Eerstespan wat spog met ‘n eindtelling van 44 teenoor 3 en die Tweedespan met 21 teenoor 3.

Die vreugdesvure het hoog gebrand nadat Northam Platinum Rhino’s geskiedenis gemaak het met drie agtereenvolgende jare wat albei dié spanne die Waterberg Liga wen. Dit spreek vanself dat hierdie Northam Platinum Rhino’s ‘n ondersteuning-struktuur het wat skrik vir niks, en wil graag die volgende bedankings maak: Meneer Danny Gonsalves sonder wie se bystand en ondersteuning rugby op Northam Platinum nie moontlik sou wees nie, meneer Gustaf Grobler vir afrigting en tyd, die Rugby Komitee wat agter die skerms die klub optimaal laat funksioneer en “Player 23”, Oom Lammie, geen wedstryd was vir u te ver nie…

Ook ‘n groot woord van dank aan elke speler wat die Rhino spanne opmaak, vir hul opofferinge, harde werk en bereidwilligheid.