Loslitdag: HFM maak opritte vir rolstoele

Lede van Xteme Adventures by die nuwe oprit vir rolstoele wat by HFM aangebring is. Van links is Petrus van Breda, Celia Schoeman, Hannelie van Rensburg, Colin Campbell (HFM skoolhoof), Janeen Barber en Llen Barber (New Concept Mining, die borg).

THABAZIMBI – Met Loslitdag net om die draai, het Hoërskool Frikkie Meyer gewys dat hulle ‘n hart het vir gestremdes in rolstoele, deur die eerste van sowat vier opritte by die skool te laat aanbring.

New Concept Mining, XA4D en Deon en Karen Azar is die borge vir die nuwe opritte. Die eerste oprit, wat aangebring is by die administratiewe geboue, is pas voltooi en die ander sal binnekort gebou word. X-treme Services van Petrus van Breda het die bouwerk behartig. Parkering vir gestremdes gaan ook by die oprit aangebring word.

Loslitdag, ‘n dag wat landswyd vir bewusmaking van gestremdes opsy gesit is, is soos gewoonlik die eerste Vrydag in September en vanjaar val dit op 2 September. Soos verlede jaar beplan Xtreme Adventures for the Disabled, Thabazimbi se organisasie vir gestremdes, ‘n sigbaarheidsprojek vir Loslitdag.

In die oggend sal hulle ‘n stalletjie beman op die parkering vir gestremdes by Pick n Pay. In die middag sal hulle by Thaba Spar wees, waarvandaan ‘n roete deur die dorp gevolg sal word.

Tydens die optog deur die dorp sal sertifikate oorhandig word aan besighede wat moeite doen om beter toegang te verleen aan gestremdes. Volgens Xtreme Adventures is reeds baie vordering gemaak by sommige besighede om rolstoeltoeganklik te wees. By banke, byvoorbeeld, is OTM’s en toonbanke nog nie geskik vir persone in rolstoele nie, maar die banke het wel opritte.

Besighede word ook gevra om Loslitdag te ondersteun deur hulle te verbind daartoe om van hul werknemers vir ‘n tydperk in ‘n rolstoel te laat deurbring, deur T-hemde te koop vir werknemers of deur donasies te maak.

Gestremde parkering vir gestremdes is belangrik, nie soseer oor die afstand van die winkel af nie, maar nog belangriker, die breedte van parkering. Die breër parkering maak dit moontlik vir motors en rolstoele om in die parkeerplek te pas. Hierdie parkering maak dikwels ook voorsiening vir opritte by sypaadjies.

Plakkers vir gestremdes en ouer persone wat met behulp van kieries, krukke en looprame beweeg, is nou by Hannelie beskikbaar. Enigeen wat op gestremde parkering staan, moet so ‘n plakker op die voorruit hê. ‘n Projek word beplan om motoriste wat verkeerdelik op gestremde parkering staan op kamera vas te vang. Diegene wat nog steeds gereeld parkeer op gestremde parkering, verstaan waarskynlik nie die implikasie van ‘n teken wat onlangs sy verskyning by die gestremde parkeerplekke by Pick n Pay gemaak het nie, naamlik “Stupidity is not a disability”.

Enigeen wat belangstel om T-hemde te koop kan Hannelie op sel 072 936 9186 of Janeen Barber op 082 772 2725 skakel. Motorplakkers is ook by Hannelie beskikbaar.

Hennie Pauw