HFM Luggeweerskut na Amerika

Renaldo Nortje het as SANSSU-skut ‘n twee weke toer na die VSA onderneem om deel te neem aan verskeie luggeweerkompetisies.

THABAZIMBI – Na ‘n twee weke toer na die Verenigte State van Amerika, is Renaldo Nortje, ‘n luggeweerskut van HFM, terug op eie bodem.

Die toer na Amerika was vir hom ‘n wonderlike ondervinding en ‘n baie goeie leerskool. Hy was ook bevoorreg om seunskaptein te wees wat die span, bestaande uit vier skuts, aangevoer en gemotiveerd gehou het.

Die skuts van SANSSU het hulle uitstekend van hul taak gekwyt, waar hulle individueel asook in span verband deelgeneem het. Die uitslae was as volg: Op 24 en 25 Junie neem hulle deel aan die NRA National Junior Championships. Individueel (80 skuts): Renaldo behaal ‘n eersteplek met 1115/1200 waarvoor hy ‘n goue medalje ontvang. Hy skiet ook sy persoonlike beste tellings. Spankompetisie: Renaldo se span behaal die tweedeplek met 4348/4800 en hulle ontvang elkeen ‘n trofee daarvoor.

Op 30 Junie en 1 Julie neem hulle deel aan die Junior Olympic Individual Championships: 3P Sporter. Teen 180 individuele skuts behaal Renaldo 26ste plek met 1082/1200. Spankompetisie: Renaldo se span behaal die vierdeplek met 4360/4800.

Die skuts het uitstekend gevaar as in ag geneem word dat hulle teen van die wêreld se beste skuts deelgeneem het, waarvan skuts in die Staande Mag is en sommige reeds uit die skool.

Renaldo is dankbaar vir hierdie geleentheid en glo dat hy nie net sy land nie, maar ook sy provinsie en sy skool se naam hoog gehou het. Baie dankie ook vir almal ondersteuning.