Hardekool Boogklub presteer in Fochville

Mnr Harry Marx (regs), voorsitter van SABA oorhandig lewenslange lidmaatskap aan Henk Engelbrecht (links) van Hardekool Boogklub.

FOCHVILLE – Die sesde SABA (South African Bowhunters Association) kompetisie vir 2011 is op Saterdag 6 Augustus 2011 by Lagayim te Fochville aangebied.

Vier skuts van Hardekool Boogklub het aan die kompetisie deelgeneem wat vir die eerste keer daar aangebied is. Die skuts het al 07:30 begin pyle losmaak om hulle gereed te kry vir die dag se gebeure.

Die uitleg van die baan het gesorg dat daar sommer vroeg-vroeg al sweetdruppels die skuts begin aftap het. Voor elke teiken moes daar eers ‘n paar lang asems gevat word om die vinnige hartkloppe te bedaar.

Die baan het aanvanklik nie te moeilik gelyk nie, maar na die prysuitdeling het die persentasies ‘n ander storie vertel. Tog het dit nie Hardekool Boogklub se skuts afgesit nie.

Die vier skuts het ten spyte van die onbekende baan nog steeds vier pryse huis toe gebring en Hardekool Boogklub se naam hoog gehou. Hulle het as volg presteer: Johan Rudolph het 73% geskiet met 8 hartskote en die tweede plek behaal vir die “Male Senior Mechanical” afdeling. Renaldo Nortje het 70% geskiet met 9 hartskote en derde plek behaal vir “Male Senior Mechanicals”. Henk Engelbrecht het 90% geskiet met 10 hartskote en die eerste plek behaal vir “Male Senior Broadheads”. Petro van Reenen het 74% geskiet met 8 hartskote en dan die eerste plek vir “Female Senior Mechanical” behaal.

As dit nie genoeg pryse was vir Hardekool Boogklub nie, het Henk Engelbrecht ook sy 30ste meriete sertifikaat (vir tellings bo 80%) ontvang en is hy vereer met lewenslange Lidmaatskap aan SABA. Wat hierdie toekenning so spesiaal maak is die feit dat dit die heel eerste toekenning van so ‘n aard is. Hardekool Boogklub dra dan ook hulle gelukwense aan Henk oor.

Die volgende SABA kompetisie vind plaas op 3 September 2011 by Magnum Archery te Donkerhoek, Pretoria.

Die boogklub kom elke Donderdagaand vanaf 17:00 bymekaar by Obaro Thabazimbi se Lapa vir skiet oefening en samesyn.

Belangstellendes kan vir Hein Holtzhausen by 083 701 3039, Petro van Reenen by 082 804 9927 of Henk Engelbrecht by 083 707 3691 kontak vir meer inligting. Die hele gesin is welkom.