Boeremusiekgilde Leeupoorttak vereer ikone

LEEUPOORT – Die tien oudste lewende ikone van die Boeremusiekgilde word Saterdag 3 September 2011 by Leeupoort vereer.

Boeremusiekliefhebbers kry dan die geleentheid om deel te neem aan hierdie spesiale plegtigheid by die Boeremusiekmonument op Leeupoort, waartydens spesiale naamplaatjies teen die muur van die monument aangebring gaan word. Elke ikoon sal sy eie plaatjie onthul.

Nog ’n ikoon wat Afrikaanse musiekliefhebbers al jare lank bekoor, Gert van Tonder van die eertydse Groep 2, lewer die feesrede tydens die amptelike opening.   Die laaste ikoon wat die feesgangers gaan vermaak, is die liefling van baie jare, die immergroen Sonja Herholdt.  Soos gewoonlik, gaan van die groot name in boeremusiek teenwoordig wees.  Nie minder nie as 14 orkeste gaan optree met bekendes soos Dries Laas, Johan van Vuuren, Niel Robberts, Paul Roodt, Cassie Nel, die Vastrap Boereorkes van die Vaaldriehoek, Danie Grey, Madelein Potgieter se damesorkes, die Leeupoortorkes, Manie Bodenstein, Nico van Rensburg, Kobus Fourie, die Jong Afrikaner Boereorkes (JABO) en Willie Mynhardt en sy orkes wat vir lekker vermaak gaan sorg.

Ons nooi almal hartlik uit om te kom luister en dans.

Vir navrae en meer inligting kontak Pieter Bodenstein 082 410 1655.