DBV stop Thaba Rodeo

THABAZIMBI – ‘n Jong bul moes tydens die Thabazimbi Landbou- en Nywerheidskou se Rodeo-vertoning uitgesit word nadat hy sy been, ten aanskoue van geskokte toeskouers, gebreek het.

Volgens mnr Anton de Bruyn, Nasionale Inspekteur van die Dierebeskermingsvereniging wat die Rodeo bygewoon het, was al die nodige dokumentasie aan die Rodeo organiseerders se kant in orde en sal daar nie regstappe geneem word nie. Die DBV was egter gewapen met ‘n lasbrief van die magistraat wat spesifieke toestande ingesluit het: geen “bucking straps” (flank bande) mag op die diere gebruik word nie, ryers mag nie “spurs” (spore) gebruik nie en geen ander toerusting mag op die diere gebruik word nie.

Nie te min het die eerste item van die Rodeo skokgolwe deur die gehoor gestuur toe die jong bul met ‘n slag grond toe geval het nadat sy been se ligamente blykbaar geskeur het. Volgens ooggetuies kon die organiseerders nie daarin slaag om die beseerde bul uit die arena te lei nie, en het ‘n ander bul ingelei om hom te probeer uitkry deur dominansie af te dwing. Die groot bul het die jong bul van agter opgeklim (“mount”) en in die proses die alreeds beseerde been gebreek.

Die Rodeo is deur die DBV stopgesit nadat dit aan die lig gekom het dat die bul se been gebreek is, en dat die bul uitgesit moes word. Die toeskouers het net daarna die arena verlaat. Geen terugbetalings is aangebied nie.

Mnr Tom Prinsloo, organiseerder van die Rodeo en streeksorganiseerder van Limpopo Rodeo wat sorteer onder SAPRCA (South African Professional Rodeo and Cowboy Association) waarvan hy vise-voorsitter is, wou nie kommentaar lewer nie.

Die DBV het in hul mediaverklaring ‘n duidelike uitspraak teen alle Rodeo-optredes gelewer. Hulle is van mening dat die gebeure tydens Saterdag se vertoning net weereens bewys dat Rodeo roekeloos en wreed is en dat dit diere in gevaar stel, selfs sonder die toerusting wat gewoonlik gebruik word om die diere te laat bokspring. Die DBV maak geen geheim daarvan dat hulle sterk teen Rodeo gekant is nie.

Kommentaar vanuit die gemeenskap is op Die Kwêvoël se Facebookblad gelewer asook aan Die Kwêvoël per e-pos gestuur.

Thabazimbi Animal Rescue het in ‘n verklaring gesê dat TAR, as plaaslike diere welsynsorganisasie, van mening is dat die regulering van Rodeos in Suid-Afrika nie voldoende is nie en beskou hulle dit as ‘n baie hoë risiko tipe vertoning. Hierdie standpunt is inlyn met die standpunt gestel deur die nasionale raad vir veeartse sowel as die nasionale dierebeskermingsvereniging. Die mediaverklaring dui ook aan dat dit die rede is waarom TAR saam met die DBV voor die vertoning die optrede wou stopsit en sal ook in die toekoms alles in hul vermoë doen om Rodeo-optredes te verhoed.

Die Thabazimbi Ruiterklub met mnr John Davies aan die stuur, het ook ‘n mediaverklaring uitgereik, waarin hulle die “afgryslike” gebeurtenis ten sterkste afkeur.

Foto’s op die voorblad verskaf deur Avril Fish en Anton de Bruyn.