AfriForum dien klag van korrupsie teen Julius Malema by polisie in

AfriForum het vandag in terme van die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede (wetnr. 12 van 2004) ‘n klag van korrupsie teen Julius Malema by die Brooklyn-polisiestasie in Pretoria ingedien.

Dié klag hou verband met onthullings in Sondagkoerante dat Malema na bewering die Ratanang Familietrust, waarvan hy die enigste trustee is, sou gebruik as voertuig om betaling van besigheidspersone te ontvang, in ruil vir sy hulp aan dié besigheidspersone om regeringstenders te bekom. Die bewering dat die besigheidsman Matome Hlamboa – wat suksesvol was om sowat R200 miljoen se regeringstenders in Limpopo te bekom – ‘n voertuig ter waarde van R1,2 miljoen aan Malema beskikbaar stel en ander gunste aan Malema betoon, vorm ook deel van die klag.

“Hy mag dalk dink hy is onaantasbaar, maar Julius Malema is beslis nie bo die wet verhewe nie. Die korrupsiewetgewing bepaal uitdruklik dat dit ‘n kriminele oortreding is om belonings te ontvang in ruil vir hulp om regeringstenders te bekom,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.

Benewens die bewerings in die media is die feit dat Malema se leefstyl en eiendom buite verhouding tot sy salaris staan, reeds ‘n grondige rede om ‘n omvattende polisie-ondersoek te regverdig, het Kriel bygevoeg.

Volgens Kriel sou dit skandalig wees indien iemand soos Malema – wat hom daarop roem dat hy die arm mense verteenwoordig – wel daaraan skuldig is dat hy die staatskas plunder om homself te verryk ten koste van dienslewering aan arm mense.

AfriForum gaan volgens Kriel die polisie-ondersoek monitor om te verseker dat geregtigheid geskied en niks onder die mat ingevee word nie.