‘n Doepa vir neulende kinders

Thabazimbi Apiesdoring Karnaval

THABAZIMBI – Daar is min dinge wat ‘n ma so kan uitput soos ‘n verveelde en neulende kind wat bly pleit: “Ek wil nou huis toe gaan”.

Die organiseerders van die Apiesdoring karnaval glo hulle het ‘n oplossing daarvoor. Kinders-besig-hou is waarna gestreef word. Hier volg ‘n opsomming van die plan met sy bestanddele: ‘n Kinderspeelpark met swaaie en springkastele vir die kleuters. ‘n Lewende hawe stalletjie met skapies, hasies, kuikentjies en eendjies gaan ook ‘n paar kinders laat begeer om huistoe te vat en te gaan troetel. Die lekkergoedstalletjie met die mooiste en soetste swiets, kolwyntjies wat hulle self kan versier en “lucky packets”. ‘n Reuse tombola waar “NOG” die wagwoord is en kinders sal wil bly teruggaan. Die finale jaar katkisante bou ‘n spookhuis – met ‘n paar wrede ingevoerde spoke wat “bang” soos ‘n verkleinwoordjie sal laat klink.

Speletjies en kompetisies is daar talle. Kobus Muller se span sorg vir bakkatel speletjies, stok-gholf en stok-snoeker. Daar is talle speletjies wat jou koördinasie vernuf gaan toets.

Die boomklim kompetisie teen een van die reuse Apiesdoringbome bly een van die groot uitdagings. En hierdie jaar kan boetie langs die kerk se reuse sementdam ‘n vis probeer vang vir ‘n prys! Daar is weer ‘n laser kleiduifskiet kompetisie. Kettieskiet-, boogskiet- en skyfskiet kompetisies met pragtige pryse sal ook vernuftige skuts se korrel toets.

Ma en pa kan DJ Ossewa en Basjan die Weskusklong geniet op die hoofverhoog, terwyl ouboet en kleinsus met die bogenoemde vermaak besig is. Smul aan Erik se afval en stampmielies of die gewilde pap en kaiings of pap en wildslewer. Pa, sorg net dat jy klaar geëet het as die jakkalsroep-namaak-kompetisie begin. Oefen solank. R5000 as 1ste, R3000 as 2de en R2000 as 3de prys is groot geld!

Nog ‘n uniekheid is die kinderveiling waar net 2-17 jariges mag bie. Daar is onder andere ‘n windbuks – geborg deur Obaro, ‘n handgemaakte opleidings model vliegtuigie – spesiaal deur Connie Conradie vir die geleentheid gemaak, ‘n fiets en die fraaiste pop in die mooiste kot. Pa sal net moet bystaan om te wys as hand-opsteek-tyd verby is! Terloops, begroot ook vir sussie wat ‘n paar keer sal terugkeer na die kunsstalletjie waar die fraaiste popklere, kotte, geskenkies vir mamma en ander mooi goedjies haar sal bekoor.

Dit alles teen die meer-as-billikke-ingangs-fooi van “gratis toegang”.

Die Apiesdoring karnaval vind plaas DV Saterdag 6 Augustus by die Hervormde kerkterrein net buite Thabazimbi (op die Ellisras-pad) en open om 8:00. Vir meer inligting oor die karnaval gaan kyk by www.apiesdoring.org of kontak die karnavalvoorsitter Izak Joubert by 083 488 6357 of ds Hennie van der Linde by 083 507 0335.