Soos motte na ‘n kers…

THABAZIMBI – Die Kransberg Vliegklub, Thabazimbi se plaaslike vliegklub, het Saterdag 16 Julie op Nylstroom gaan kuier vir hulle “fly-in” dag. Dis nou ‘n dag vol avontuur, lag en gesels vir alle vlieg entoesiaste, die wat lank reeds vlieg, die leerlinge, die wat begeer om te kan vlieg, en sommer al die wat gek is na vliegmasjiene.

Reeds 7 uur die oggend was die eerste blink gepoetste vliegtuie bymekaar geparkeer op Thabazimbi vir die vlug na Nylstroom. Die fris, koel luggie kon nie die geesdrif onder die manne en vroue demp nie. Wind-stil en wolk-loos, ‘n loods se droom vliegdag.

Kransberg Vliegklub was goed verteenwoordig met 6 vliegtuie. Barries Barnard in ‘n Bantam mikro-ligtevliegtuig was eerste om weg te spring. Vir hom was daar ‘n uur en 15 minute wat gewag het. Die Bantam is die blou en rooi Thabazimbi Vliegskool vliegtuig, wat gereeld soggens en smiddags te sien is al om Thabazimbi se vliegveld.

Daarna was dit die vinniger manne wat so saam-saam die pad Nylstroom toe aangedurf het. Die roete was sprokie mooi, met die sagte kartels van ons Waterberge, snoesig bedek hier en daar met miswolk.

Oor die radio was dit die vriendelike en bekwame stem van “Uncle Bob”, Bob Alison ‘n afgetrede lugruim-kontroleerder, wat mens begroet het om die besige lugruim van Nylstroom te beheer. Bob het in 2009 hier in Thabazimbi vir ons die lugruim beheer tydens die Kumnandi mini-lugskou. Van wyd en suid het mens vliegtuie hoor roep oppad na Nylstroom. Ons het gedink ons was vroeg maar daar aangekom was daar reeds dosyne vliegtuie.

Die Nylstroom Vliegklub het hul puik van hul taak gekwyt, met omtrent 60 vliegtuie wat ingevlieg het. Hulle het gesorg dat ons kuiertjie onverbeterlik was. Dit was heerlik om met ou en nuwe vlieg-vriende te kon klets oor ‘n gemeenskaplike belangstelling. So stap-stap, van vlerk tot vlerk, het almal gewandel en mekaar se masjiene van nader bekyk.

Nou het ons ook ‘n “voëltjie-hoor-fluit” dat daar moontlik in Oktober in Thabazimbi ‘n “Fly-in” gehou gaan word. Hou gerus jou Kwêvoël dop vir verdere inligting.