Ray kuier by die Skou

Die energieke Ray Dylan is een van die kunstenaars wat tydens die Landbou en Nywerheidskou gaan optree.

THABAZIMBI – Die veelsydige kunstenaar, Ray Dylan, is tydens die jaarlikse Thabazimbi Landbou en Nywerheidskou aan die einde van die maand op die verhoog te siene.

Ray Dylan is al sedert 2002 een van Suid-Afrika se mees geliefde sangers met sy debuutalbum ‘New Kid in Town’. Sedertdien het hy al verskeie hoogtepunte beleef, onder andere duette saam met Nicholis Louw en Karen Zoid.

Dié sanger is ‘n volronde kunstenaar geseën met een van die beste stemme in Suid-Afrikaanse musiek – ‘n kunstenaar met energieke optrede wat die elektriese kitaar laat kreun. Met polsende ritmeplukkers en sielstrelende ballades bied Ray Dylan se albums wydtreffende musiek.

Ray Dylan het begin deur gigs in pubs en klubs te speel en vandag spog hy met ‘n rits Afrikaanse treffers, onder andere Wys my hoe; Soek jou Hier, Soek jou Daar; Hokaai Stoppie Lorrie; Dis Verby; Hier binne klop ‘n Boerehart; Breek die Ys en Jessica.

Ray Dylan is gebore Jacobus Frederik Jersich op 15 Augustus 1978 te Odendaalsrus. Vandag woon hy in die Vrystaatse dorpie Parys.