Onwettige storting groot kopseer vir Munisipaliteit

Die storting van vullis in dié beoogde ontwikkelingsgebied is besig om hand-uit te ruk.

THABAZIMBI – Die onwettige storting van vullis op oop erwe, langs die Marakele-pad en elders is tans besig om hand-uit te ruk. Alle inwoners wat maandeliks betaal vir vullisverwydering, mag gratis vullis stort by die stortingsterrein, ook bekend as die asgate.

Enigeen wat gereeld verby die onbeboude uitbreiding by die verlenging van Van der Bijlstraat ry, sal verstom staan oor die hoeveelheid storting wat in hierdie area plaasvind. Dit is nie bloot rommelary deur bosslapers en verbygangers nie, maar groot hoeveelhede huishoudelike vullis, ou huisraad en tuinrommel wat op vele van die oop erwe gestort word.

Daar is inwoners wat binnekort op hierdie erwe wil begin bou en baie ontsteld is oor die vermeerdering van rommel. Die Verkeersdepartement patrolleer wel die area.

Net buite die dorp op die Marakele-pad word daagliks swart sakke, met huishoudelik vullis, naby Eskom se perseel gelaat. Hierdie sakke is meestal geskeur en die inhoud verstrooi.

Volgens die Munisipaliteit is dit heeltemal onwettig. Wanneer die Marakele Nasionale Park se vullis verwyder word, word hierdie rommel verwyder, maar dikwels kom nuwe sakke by tussen die tyd wat die vulliswa uitry en terugkom, volgens Mahlongonolo Mvundlela, superintendent by die afdeling Soliede Afval Bestuur.

Mvundlela sê ook dat die Munisipaliteit poog om werk te maak van lodges en gastehuise wat nie voldoende voorsiening maak vir vullisverwydering nie.

Munisipale wetgewing bepaal dat hierdie soort instansies planne moet voorlê aan die Munisipaliteit vir die hantering van afval en verplig is om dit dienooreenkomstig te hanteer.

Verlede jaar is besluit dat inwoners moet betaal om die stortingsterrein te gebruik en dit het waarskynlik gelei tot die toename in onwettige storting. Die situasie is egter aangespreek en ‘n plakker-stelsel is ontwikkel waarvolgens alle inwoners wat vir vullisverwydering (as deel van die munisipale dienste) betaal ‘n plakker kan aanvra (verniet) wat op die rekening aangebring word. Die plakkers is verkrygbaar by die kassiere van die Munisipaliteit. As dit by die stortingsterrein vertoon word, kan inwoners verniet hul vullis stort. Vir ander inwoners is die koste R40 of R80, afhangend van die grootte van die vrag. Die plakkers is vir ‘n maand geldig en elke maand word ‘n plakker van ‘n ander kleur beskikbaar gestel.

Vir tuinvullis word ‘n blousak-stelsel gebruik. Twintig blou sakke is teen ongeveer R30 beskikbaar by die kassiere van die Munisipaliteit en tuinvullis word dan ook op die sypaadjie gelaat. Dit word egter nie saam met die huisvullis verwyder nie aangesien die verdigter-wa se saampers-meganisme nie soliede tuinvullis kan hanteer nie. Klagtes bestaan dat slegs een blou sak per keer opgetel word, maar Mvundlela het Die Kwêvoël verseker dat die Munisipaliteit poog om al die blou sakke te verwyder.

Die oorsaak van die groter rommelprobleem blyk meervoudig te wees. Eerstens is daar ‘n gebrek aan opvoeding, inligting, kommunikasie en dissipline by inwoners. Volgens Franco Loots, DA-raadslid, kan mense wat al die moeite doen om rommel op bakkies te laai en onwettig te stort dit net sowel by die stortingsterrein aflaai. En indien ‘n plakker nie verkry is nie, moet die R40 maar opgedok word, meen hy. Dis skaars meer as wat ‘n pakkie sigarette kos.

Mense behoort meer om te gee oor hoe hul dorp lyk en behoort hul plig te besef om Thabazimbi te help skoonhou.

Hy meen egter ook daar is ‘n gebrek in die stelsel en die toepassing daarvan, soos dat somtyds net een blou sak opgetel word (veral hierdie tyd van die jaar wat baie plantmateriaal ophoop in tuine), of dat die plakkers nie altyd by kassiere beskikbaar is nie, of dat almal nie altyd rekeninge by die kassiere betaal nie.

Hierdie probleme moet aangespreek word.

Ander tekortkominge is die tekort aan verdigterwaens en ander verwyderingsvoertuie, omdat dit dikwels breek en buite aksie is en ‘n tekort aan grootmaat houers. Die munisipale wette of ordonnansies, waarvolgens onwettige storting ‘n strafbare oortreding is, is ook nog nie in plek nie.

Volgens Mahlongonolo is die Munisipaliteit besig om ‘n werkbare stelsel te ontwikkel en sy versoek inwoners om te help met die oplossing van die rommelprobleem.

Hennie Pauw