Mooie gesiggies op Facebook

THABAZIMBI –Die jaarlikse Baba- en Kleuterfotokompetisie wat sinoniem is met die Landbou en Nywerheidskou, se wenners word volgende Saterdag, 30 Julie tydens die skou bekend gemaak.

Intussen hou Die Kwêvoël ‘n aparte kompetisie om die gunsteling baba of kleuter aan te wys. Hierdie kompetisie, ‘n eerste vir dié gemeenskapskoerant, sal gebruik maak van die sosiale netwerk, facebook, waarop al die deelnemers se foto’s geplaas gaan word en elke ouer en hul familie en vriende die foto kan gaan “like”. Op dié manier sal daar vasgestel word watter gesiggie die meeste stemme kry.

Daar is net een prys betrokke, met ander woorde, die foto met die meeste “likes” sal wegstap met die titel: Die Kwêvoël Gunsteling Gesiggie.

Sy of haar gesin wen ‘n uitstappie na Van Ross Dierepark waar hulle die dag kan spandeer deur die diere te voer en pizzas te bou.

Die foto’s word op Maandag 25 Julie op Die Kwêvoël se facebook-blad gelaai, waar almal wat op facebook geregistreer is eers Die Kwêvoël-blad moet “like” voordat daar vir die foto gestem kan word. Die afsnytyd is Maandag 1 Augustus om 12:00, die wenner sal op Vrydag 5 Augustus in Die Kwêvoël verskyn tesame met die wenners van die verskeie kategorieë in die fotokompetisie.

Die wenner se ouers is self verantwoordelik om die prys by Die Kwêvoël kantoor in Tweedelaan 17, Thabazimbi af te haal.