Landbouskou volgende naweek

THABAZIMBI – Dit is weer tyd vir die jaarlikse Landbou en Nywerheidskou te Thabazimbi Skougronde, vanaf volgende Donderdag 28 Julie tot Saterdag 30 Julie.

Die organiseerders beloof dat dit een van die beste skoue gaan wees wat Thaba nog beleef het aangesien daar heelwat moeite gedoen is om stalletjies te werf. Slegs stalletjies van hoë gehalte is gekeur om vanjaar toegelaat te word.

Daar is ook vanjaar ‘n kitsbank vir diegene wat nie kontant saamdra nie.

By die beeste gaan weer van die top diere in die land tentoongestel word. Hier gaan nagenoeg 15 rasse wees, asook boerbokke en melkbokke. Die beoordeling vind op Donderdag 28 Julie vanaf 14:00 en weer Vrydag 29 Julie vanaf 8:00 tot 17:00 plaas. Saterdagoggend word die interraskampioene gekroon, wanneer die top bul en koei van elke ras gekroon word.

Die wildveiling vind op Vrydag 29 Julie plaas en alles dui daarop dat daar rekord pryse behaal gaan word. Van die wild is alreeds gevang en daar gaan onder andere buffels en ‘n baie rare koningswildebees verkoop word.

‘n Rodeo vind plaas op Saterdag om 10:00 by die skougronde. Professionele ruiters van oor die hele land neem ook hier deel. Bulle en perde word gery soos gesien op televisie. Daar is egter baie streng reëls om die diere te beskerm. Toegang by die rodeo beloop R40. Plaaslike ruiters wat ook wil deelneem, kan vir Tom Prinsloo skakel by 079 3777 290.

Daar word ook na baie jare weer hoenders en duiwe tentoongestel.

Gaskunstenaars wat optree is onder andere Ray Dylan, David Fourie en Liza Bronner en vele ander.

Inskrywings vir Mej Thabazimbi 2011 word nog afgewag en vorms is by Thaba SuperSpar beskikbaar.

Die Baba- en Kleuterfotokompetisie se wenners word op Saterdagoggend om 11:00 aangekondig.

Toegang tot die skou beloop R40 per person en R20 vir laerskoolkinders.

Vir meer inligting kontak die skoukantoor by 014 777 1204.