Beeldskone Bridges by Gholfdag

Sunette Bridges saam met Esmé Behrens, voorsitter van die Thabazimi Gholfklub.

THABAZIMBI –Die afgelope naweek was daar besoekers van heinde en verre by Thabazimbi Gholfbaan om te kom deelneem aan die “Battle of the Bushveld” gholftoernooi vanaf 15 tot 16 Julie.

Vrydag het 48 dames (Woodhill Dames teen die Bosveld Uitnodigingspan) meegeding vir die trofee waarop die Bosveld Span die City Slickers 8 – 2 gewen het.

Saterdag was daar 100 spelers wat meegeding het vir ‘n prystafel met die waarde van R15000.  Die formaat was ‘n beterbal keusedryf met ‘n oggend- en ‘n middagveld.

Die pare wat in die oggend afgeslaan het, het vroeg-vroeg warmgemaak met ‘n sjerrie en die heerlike worsbroodjies wat deur Thaba Spar geborg was.

Die baan was oral versier met borge se baniere en veral die Centrum A-Z vitamiene tafel het die spelers op hulle tone gehou.

Na afloop van die gholf het Sunette Bridges die gholfers vermaak deur ‘n twee ure vertoning aan te bied.  Die vermaaklikheidster het meer as een verborge talent en het self in die gholfdag deelgeneem.

Haar warm hart en sprankelende persoonlikheid het gesorg dat sy diep in die harte van die Bosvelders gekruip het. Die gees van die Dames van Woodhill was opmerklik met hul danspassies tydens die vertoning.

Thaba Gholfklub se eie Oom Hans Human het hom ook nie twee keer laat nooi en vinnig ‘n paar skuifpassies op die verhoog uitgevoer. Oud maar nog nie koud nie!

Die dag was ‘n reuse sukses en die wenners was A Venter en L van Graan met 54 punte (TBZ) en  L van Eyk en C van der Spuy (Windgate).

Die Gholf Komitee wil hiermee ook graag Thaba Spar, Thaba Tops, Thabazimbi Koelkamers, Thabazimbi Motors, C Benzien, W du Plessis, C vd Spuy, die Thabazimbi Dames Lede en al die besoekers bedank wat van die dag ‘n reuse sukses gemaak het. Volgende jaar word daar weer so gemaak.