Troeteldiere bring verantwoordelikhede

THABAZIMBI – Thabazimbi Animal Rescue (TAR) het heelwat diertjies beskikbaar vir aanneming, maar maan die gemeenskap om tog bewus te wees van die verantwoordelikhede wat met ‘n troeteldier gepaard gaan.

Die volgende is belangrik vir ‘n hond: Goeie kos, verkieslik ‘n goeie soort hondepille, vars water, ‘n warm, droë en skoon slaapplek en baie liefde en aandag.

Hoe gee ‘n mens aandag aan ‘n hond? Beteken dit dat my hond oral saam met my moet gaan? Dit kan tog nie! Daar is so baie plekke wat tekens opsit dat geen honde daar toegelaat word nie. Nou wat dan? Kalmeer. Daar is ‘n hele paar maniere om aandag aan ‘n hond te gee. ‘n Blote vryf oor sy kop, gesels met hom of gaan stap met hom. Selfs as jy vir hom kosgee en hom eers bietjie vryf of agter die oor krap terwyl jy  met hom gesels, gee jy aandag. Maar dis nie genoeg nie. Veral sekere soorte honde soos Labradors, Duitse Herdershonde en Dobermans het meer as dit  nodig. Een manier om vir hulle aandag te gee, is om vir hulle toertjies te leer. Dit leer ook terselfdertyd dissipline aan die hond.

Drie basiese toertjies wat selfs ‘n kind aan sy/haar hond kan leer is as volg. Die belangrikste is om die hond te leer om op jou te fokus, met ander woorde om al sy aandag op jou toe te spits. Hou jou hande (met ‘n hondehappie in) agter jou rug. Gee die bevel “sit!”. As die hond dan sit, gee hom ‘n oorkrap en ook sy hondehappie. Laat jou stem jou goedkeuring wys. Om met ‘n nors stem te sê: “Mooi so!” het net nie dieselfde uitwerking as ‘n vriendelike, opgewonde, “Mooi so, Bruno!” nie. Herhaal hierdie proses ‘n paar dae lank, en beloon die hond afwisselend met goedkeurende aanraking (vryf) en ‘n hondehappie. As jou hond eers geleer het om op jou bevel voor jou te sit, kan jy hom op dieselfde manier leer om op jou te fokus. As die hond nie op jou fokus nie, kan jy nie bevele aan hom gee nie. Dis ook waarom jy nie jou hande voor jou hou met die hondehappie in jou hande nie. Dan gaan dit oor die happie, en nie oor jou gesig nie. Laat hy nou gewoond raak aan die woord “fokus”, of “luister”. As sy aandag vir twee sekondes op jou gesig bly, beloon jy hom. Verleng die tyd geleidelik. Herhaal hierdie proses oor totdat jy tevrede is dat jy sy onverdeelde aandag kan behou vir ongeveer vyf sekondes.

Sodra jou hond lank genoeg kan fokus, neem jy ‘n hondehappie in jou een hand. Hou dit voor sy neus, sê: “Draai, Bruno” en hou die happie voor sy neus en lok hom om in die rondte te draai. Beloon hom weereens afwisselend met woorde en vryf, en ‘n hondehappie. Hierdie keer sal dit ‘n bietjie langer vat om hom te leer, maar naderhand sal hy net jou bevel, “draai!”, nodig hê om in die rondte te draai.

So speel-speel het jy dus goeie, kwaliteit-tyd saam met jou hond deurgebring. Verder het hy ‘n bietjie dissipline geleer en het iets waarmee jy hom kan besig hou om hom te keer om teen jou gaste op te spring.