Thusano se eerste bergfietsuitdaging om die draai

Die Thusano Dames Forum van Amandelbult, bied op Vrouedag, 9 Augustus ‘n bergfietsresies te Madeleine Robinson Natuurreservaat aan.

AMANDELBULT – Die heel eerste Thusano Rooibok Bergfietsresies van sy soort in die area word op Dinsdag 9 Augustus 2011 te Madeleine Robinson Natuurreservaat te Amandelbult aangebied.

Dit beloof om propvol pret vir die hele gesin te wees met ‘n 1km roete vir die kleintjies van ouderdom 3-7jaar (gratis), ‘n 5km roete vir die gesin (R25), ‘n 35km (R80) vir die meer ervare bergfietsryers en vir die superfikses ‘n 50km (R110) roete. Die wedren is oop vir alle ouderdomsgroepe vanaf drie jaar, maar kinders onder 10 jaar moet deur ‘n volwassene vergesel word.

Daar is groot wildspryse op die spel, onder andere ‘n blouwildebees en rooibokke, asook vleispakkette en kampgereedskap.

Elke deelnemer sal ook ‘n Thusano Rooibok medalje ontvang. Kom trap saam en steun Thusano Dames Forum, wat die fondse weer terugploeg in die plaaslike gemeenskap.

Indien u belangstel e-pos gerus vir Liháni Müller by thusanocf@gmail.com.

Die organiseerders daag veral die dames van die gemeenskap uit om op Vrouedag vir die manne te wys waar Dawid die wortels begrawe het.