R25M vir Benchmark Veiling

‘n Swartwitpens vers het teen ‘n rekordprys van R400 000 onder die veilingshamer gekom tydens die Benchmark Veiling te Bela-Bela.

BELA–BELA –  Die Gravelotte Swartwitpens Studiegroep het hul jaarlikse Swartwitpens Veiling onder die nuwe naam van “Benchmark Game Breeders” aangebied in die hokke van mnr Hans Kooy op Warmbad (Bela-Bela) , Saterdag 9 Julie 2011.

Dit was by verre die grootste aanbod van Swartwitpense ooit op ‘n veiling in Suid-Afrika terwyl daar ook ‘n paar ander Skaarswild aangebied was.

Die veiling het ongekende belangstelling gelok.  Kopers vanoor die hele land het die veiling bygewoon.

Die Studiegroep staan onder die voorsitterskap en leiding van die baie bekende en bekwame  Mnr Piet  Warren, bygestaan deur ‘n skitterende komitee in persone van die kaliber van mnre Hannes Maree, André Scholtz, Johan Rabie en Barend Vorster om net ‘n paar te noem.

Die veiling was uiters professioneel aangebied.  Die Komitee het besluit wat die minimum prys moet wees en die verkopers was oor die algemeen daarmee tevrede behalwe in enkele gevalle.

Dit het meegebring dat die veiling vloei en die kopers voel dat hulle beskerm word deurdat daar nie onmoontlike reserwe pryse aan die diere gekoppel was nie.

Die diere wat aangebied was, is met die uiterste sorg geteel en aangebied.  Die telers streef daarna om weer na die oorspronklike Swartwitpense te teel met uitsonderlike horinglengtes en besonderse konstitusie. Hierin het hulle reeds grootliks geslaag.  Vandaar die besondere belangstelling in die veiling.

Die pryse wat die diere in bomas behaal het was as volg: Familiegroepe en Vroulike diere: drie buffels verkoop teen ‘n gemiddeld van R197 000 elk, vier buffel verse verkoop teen ‘n gemiddeld van R245 000 elk, een buffel koei en kalf verkoop teen R400 000, vier swart rooibokke verkoop teen ‘n gemiddeld van R140 000 elk, 19 swartwitpenskoeie verkoop teen ‘n gemiddeld van R182 105, 68 swartwitpensverse verkoop teen ‘n gemiddeld van R176 618, met die hoogste wat teen R400 000 verkoop word. Een swartwitpens koei en kalf verkoop teen R170 000.

Die manlike diere in bomas verkry die volgende pryse: 20 volwasse swartwitpense verkoop teen ‘n gemiddeld van R92 300 elk terwyl 117 jong swartwitpense teen ‘n gemiddeld van R35 530 verkoop.

Die totale omset vir die hokveiling was R24 174 000.

Katalogusdiere kom as volg onder die hamer: Familiegroepe en Vroulike diere: een wit renoster vers verkoop teen R175 000 terwyl een swart rooibokooi en lam teen R240 000 verkoop.

Die manlike diere per katalogus verkry die volgende pryse: ses volwasse bastergemsbokke verkoop teen ‘n gemiddeld van R24 333 elk, een volwasse buffel verkoop teen R55 000, twee livingstone elande verkoop teen ‘n gemiddeld van R25 000 elk, een swartrooibok verkoop teen R140 000, een volwasse swartwitpens verkoop teen R75 000 en een jong witrenoster kom onder die hamer teen R120 000.

Die totale omset per katalogus was R1 001 000, terwyl die veiling ‘n totale omset van R25 175 000 oplewer.

Die afslaer was Willie Roux.