Pokkel rus nou

Jaco Botha is op Maandag 11 Julie oorlede, nadat hy ‘n maand geveg het vir sy lewe, na ‘n ernstige motorongeluk net buite Thabazimbi.

RUSTENBURG – Jaco Botha het na ‘n maand se stryd in die intensiewe sorg van Ferncrest, Rustenburg, op Maandag 11 Julie aan sy beserings beswyk.
Hy is op 11 Junie ernstig beseer in `n motorongeluk oppad van Thabazimbi na Rustenburg.

Jaco het moedig geveg maar op die einde was die beserings net te ernstig.

Hy word oorleef deur sy ouers Nico en Gerda, broer Henning, getroud met Neranda en suster Ilse, getroud met Stephen Jacobs en al sy baie vriende. Die begrafnisdiens vind vandag, Vrydag 15 Julie, plaas om 11:00 vanuit die NG Kerk Suid op die hoek van Unie- en Kerkstraat te Rustenburg.

“My kind, my boeta, Jakkie, Pokkel, Kwaaikie, ons almal gaan jou vreeslik mis. Ons sal nooit jou vriendelike gesig, lekker lag en mooi bruin oë vergeet nie. Rus saggies by Jesus, Hy het `n spesiale plekkie vir jou gemaak. Ons het almal by jou geleer hoe om jou hart en jou huis vir jou medemens oop te maak. Jy het van ons beter mense gemaak, en daarvoor sal ons jou ewig dankbaar wees.”