Jodel by Sonskynkarnaval

LEPHALALE – Die Hervormde Gemeente Ebenhaeser, Ellisras hou op Saterdag 30 Julie die jaarlikse Sonskynkarnaval. Dit vind van 08:00 tot 16:00 by hul kerkterrein plaas. Aantreklike pryse kan by dié geleentheid gewen word.

Een daarvan is die Jodelkompetisie wat gehou word. Hier kan deelnemers hulle vaardigheid laat hoor, hulle vernuf die lug in laat gaan en hulle braafheid ten aanskoue van die menigte mense laat seëvier.

Die talentvolles, die humoriste en die uitdagers word hartlik genooi om met hulle stemme die beoordelaars na hulle asems te laat snak. Daar word geen inskrywingsgeld gevra nie. Die wonderlike eerste en enigste prys waar om meegeding word, is R1000.

Benewens die Jodelkompetisie is daar ook die Karnaval-, jag- en slagoskompetisies. Pryse soos ‘n vakansie by die see, ‘n naweek by ‘n leeuplaas, verskeie jagpakkette en ‘n slagbees word aangebied. Prystrekkings vind gedurende die dag plaas.

Die gaskunstenaars wat op Karnavaldag optree, is Pieter Koen en Jammies Jamneck. Hulle het geen bekendstelling nodig nie. Daar is ook geen toegangsfooi betaalbaar nie. Die bywoning is dus gratis en verniet.

Gedurende die dag gaan daar ook optredes deur verskillende skole plaasvind. Hier word gedink aan revue, trompoppies en sang. Dit is ook altyd ‘n heerlike ervaring om te sien hoedat die kinders kan baljaar, bokspring en met oorgawe kan lag. Vanjaar is daar ook weer die gesiggies wat ingekleur word, ‘n springkasteel wat die kleingoed gaan besig hou en pretritte wat onderneem kan word.

Een van die items wat ‘n moet by enige basaar is, is die bekende skyfskiet. Hier gaan meegeding word om aantreklike pryse. Diegene wat oor die waagmoed beskik, wat bestendigheid in die hande het of diegene wat van uitdagings hou en die visier in die kol kan bewe, is meer as welkom om in te skryf en as moontlike wenner gekroon te word.

Vanjaar vind daar ‘n Toutrekkompetisie op die Karnavaldag plaas. Spanne van verskillende kerke is genooi om mee te ding. Krag, uithouvermoë en vernuf is die wagwoorde vir dié spannende geleentheid. Die eerste prys is nie minder nie as R800.

Die gemeente is tans hard aan die werk om die vee en wild te bewerk. Honderde kilogram wors, droëwors, maalvleis, beesvleissnitte en biltong sal te koop aangebied word.

Die gemeenskap van Thabazimbi word vriendelik uitgenooi om in die sang, pret, kompetisies, deursettingsvermoë, vernuf en krag te kom deel.

Navrae kan gerig word aan die skriba, Johan van Vuuren, by 014 763 2703 of 082 692 7855. Ds en mev Kalfie Loots wat vanaf Maart 2010 in die gemeente werksaam is, kan ook by 082 656 6677 gekontak word.