Renosterstropings gaan aan en aan en aan…

Die karkas van nóg ’n renoster wat vermoedelik ’n paar weke gelede doodgeskiet is, is die afgelope week op die wildplaas Lleweni in die Mookgophong-distrik gekry nadat ’n ma en haar kalf wat voorheen onthoring is, ’n paar weke gelede geskiet is.

Volgens inligting het die eienaar, dr. Walter Ward, en van sy gaste ongeveer drie weke gelede vyf skote op die plaas gehoor.

Die mense op die plaas het die omgewing probeer fynkam, maar kon niks op die 2 000 ha plaas in die digte bos sien nie. Die afgelope week is die karkas van ’n renoster in die bosse gevind. Die dier se horing was uitgeslag.

Ná ’n deeglike telling, is voorts gevind dat daar nog vier renosters met groot horings van die plaas “verdwyn” het.

Ward, ’n sakeman in Johannesburg, kom selde op die plaas en het die plaas aan sy plaasbestuurder, mnr. Sakkie Kekana, oorgelaat om te bestuur. Volgens die laaste telling is daar voorts meer as duisend rooibokke, ongeveer 400 koedoes en 200 waterbokke “weg”, is aan Die Pos gesê.

Ongeveer tien karkasse van kameelperde is ook op die plaas gevind. Dit wil voorkom asof plaaslike stropers ook toegang tot die plaas gehad het.

Ward het aan Die Pos gesê sy personeel op die plaas weier om leuenverklikkertoetse te ondergaan. Kekana werk nie meer daar nie.

Hy het gesê dat kol. Charles Landman, voormalige hoof van die Brixtonse moord- en roofeenheid in die volgende paar weke die situasie daar sal monitor en werkers sal ondervra. Landman bedryf tans sy eie privaat ondersoekeenheid.

Hy het aan Die Pos gesê dat al Ward se wapenlisensies “in orde” was toe hy ’n paar weke gelede na bewering onregmatig in hegtenis geneem is deur die polisie se spesiale ondersoekeenheid van Polokwane. Voorts is ’n klag teen die hoof van die ondersoekeenheid ingedien.

Die eienaar van Thokozela Game Ranch in dieselfde omgewing, mnr. Sybrand Nortjé, het aan Die Pos gesê dat jagters op sy buurplaas een van sy koedoes doodgeskiet, die wildheining gesny en die karkas met ’n bakkie tot op die buurplaas gesleep het. Die binnegoed van die bok is op ’n ander plaas gekry.

Kapt.Herman Lubbe van die polisie se veediefstaleenheid op Modimolle het bevestig daar is drie mans in hegtenis geneem. Hulle het op Dinsdag, 21 Junie, in die Mookgophong-landdroshof verskyn. Die saak is tot Maandag, 29 Augustus, uitgestel. — LiN Nuus/Die Pos